No Image Caption

Eiendomsbelastingwaardasie 'n gruwel

Mandy Rittmann
BEREND DIERGAARDT SKRYF:

Ek doen ʼn beroep op u, as mede-huiseienaar, om asseblief hierdie skrywe met aandag en erns te lees. Na deeglike interpretasie behoort u nooit meer goedmoeds te aanvaar dat die bedrag van u maandelikse eiendomsbelasting, soos gehef deur u plaaslike owerheid, korrek behoort te wees nie. Hoekom sal ʼn instelling soos ʼn plaaslike owerheid onwetend of andersins berekenings foute begaan? JA, hulle doen dit welwillens of onwetend!

Glo my dit gebeur weliswaar. Ek persoonlik het die afgelope bykans sewe jaar, na verhuising na Arandis, telkemale verkeerde berekende Arandis Town Council (ATC) rekeninge ontvang. Verstommende basiese berekeningsfoute. Met Arandis se 2019 eiendomsbelasting was ek maandeliks teen N$209,61 te veel aangeslaan. Gelukkig kon ek die betrokke ATC-afdeling rekeningkundig oortuig. Andersins sou ek oor die vyf jaar (60 maande eiendomswaardasietydperk) onnodig N$12 576,60 te veel eiendomsbelasting betaal het.

Na die 2024 Arandis eiendomswaardasie (waardering gedoen gedurende Julie 2024) wat eers met ingaan 1 Febuarie 2025 geimplementeer was - het sommige mede-huiseienaars my gevra om hul eiendomsbelastingaanslag bedrae vir korrekheid te verieer. Eiendomsbelasting behels basies twee komponente, waarvolgens die waardasie bepaal word, naamlik waardasie op u erf en tweedens die waardasie op die verbetering/woninggebou op u erf. My noukeurige, vergelykende en analitiese berekeninge van 2019 teenoor 2024 Arandis eiendomswaardasie het skokkende realiteite geopenbaar ten opsigte van die 2024 verbeteringswaardasie bedrae per vierkante meter.

Met die 2024 waardasie in teenstelling met die 2019 waardasie was die berekeninge deur ATC t.o.v. die twaalf persone, wie se rekeninge ek geverifieer het, 100% korrek.

Dis egter die waardasiebedrae van spesifiek van die verbetering, nie die erf wat die spreekwoordelike wolf in die skaapkraal, veral in twee eienaars se geval losgelaat het. Die mees onverklaarbare geval is die van ‘n arme weduwee wie se 2024 verbeteringswaardasiebedrag teenoor die 2019 verbeteringswaardasiebedrag skokkend en verstommend, verbysterend met 204,9% gestyg het. Die spesifieke huiseienaar se woning het konstant op dieselfde vierkante meter vloeroppervlak gebly tydens die 2019-’24 waardasietydperk. Die vloeroppervlakgrootte (omtrek) is nog steeds dieselfde soos Rössingmyn dit op ‘n betonblad gedurende die sewentigjare gebou het.

Met die 2024 waardasie het die erf per meter waardasieprys met 15% gedaal. Die per vierkante meter erf waardasieprys is huidiglik slegs N$100 per vierkante meter. LET asseblief wel daarop, dat die verlaging van die erfwaardasieprys nie die problem is nie. Dis egter die waardasie op VERBETERING (woning) wat ten hemele skree vir daadwerklike regstelling. Die per vierkante meter grootte van die vloeroppervlak van enige gebou bepaal die bedrag waarteen die spesifieke gebou gewaardeer moet word. Dus behoort soortgelyke ou myn-huise, gebou op ʼn betonblad, in dieselde woonbuurt/blok nie prysgewys per vierkante meter buitensporig te verskil nie. Een eienaar se verbeteringswaardasie ten bedrae van N$224 350, met ʼn vloeroppervlak van 155 vierkante meter se aanslagprys so laag soos slegs ʼn skamele N$1 447 per vierkante meter in teenstelling met ‘n ander eienaar, met ʼn soortgelyke mynhuis se verbeteringswaardasie ten bedrae van N$561 050, met ‘n kleiner vloeroppervlak van slegs 137 vierkante meter teen ʼn verstommende verbeteringswaardasie van N$4 095 per vierkante meter. Beide hierdie voorheen mynhuise se fisiese toestand was op die dag van die waardasie dieselfde. Geen toevoeging, vergroting of strukturele verbetering aan beide huise oor die afgelope plus minus vyf dekades. Geen verduideliking sal ooit verstaanbaar en regverdigbaar vir so onverskoonbare sogenaamde flater gevind kan word nie. Die 2024 Arandis eiendomswaardasie was beslis nie geskoei op basiese eenvormige eiendomswaardasie beginsels nie, met die gevolg, ’n jammerlike klug van ’n waardasie wat gevolglik sommige huiseienaars, sonder enige vertwyfeling onregverdig benadeel.

Waarom twee huiseienaars, uit my gevallestudie van ‘n skamele 12, se 2024 verbeteringswaardasie, laër in bedrag is as die van 2019 skree om ’n logiese verduideliking, omrede die twee nie van die enigste wettige wyse gebruik gemaak het nie. Besware om verlaging van eiendomswaardasie mag alleenlik deur ʼn landdros tydens ‘n waardasiehofsitting aangehoor word. Ek was die enigste Arandis huiseienaar wie se beswaar in die waardasiehof deur ’n magistraat aangehoor was. My beswaar was en is dat pensioenarisse namate hulle ouer word ’n 5% of 10% afslag met elke vyf jaarlikse waardasie, vergun moes word. (Vervolg.)

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer