Briewe
Briewe

Eiendomsbelastingwaardasie ’n gruwel (Deel 2)

Mandy Rittmann
BEREND DIERGAARDT SKRYF:

VERVOLG: Vele plaaslike owerhede skram weg van die gepaste benaming vir die spesifieke belasting – eiendomsbelasting. Verkies eerder om op hul rekeninge daarna niksseggend te verwys as belasting (tax) of tarief (rates). Dit op sigself is misleidend en ʼn growwe veralgemening. Sommige plaaslike owerhede verkies hierdie verwarrende benamings omrede hulle terdeë bewus is van die opbouende verset teen die betaling van eiendomsbelasting. Die betaling daarvan is alreeds vir ons as huiseienaars ’n belemmering, maar om teen onbillike, onlogiese en onsinnige verhoogde eiendoms waardasieaanslagbedrae te betaal, gebaseer op onredelike verbeterings waardering is boosagtig.

Die berekening van ‘n woning se eiedomswaardasie is eintlik maklik. Die toepaslike Staatskoerant weergee elke plaaslike owerheid se erf- en verbeteringstariewe afsonderlik. Die 2024 Arandis goedgekeurde waardasie tariewe, in bedrag is as volg - N$0.020133 vir erwe en N$0.011410 vir verbetering. Die berekening van die bedrag t.o.v. erfwaardasiebelasting betaalbaar sal dus as volg wees; die goedgekeurde tarief van u plaaslike owerheid (N$0.020133 – Arandis) vermenigvuldig met die waardasiebedrag van u erf – soos aangedui op u rekening, gee u die jaarlikse erfbelasting betaalbaar. Om die maandelikse erfwaardasiebedrag betaalbaar te bereken, verdeel slegs die jaarlikse bedrag deur 12. Presies dieselfde prosedure word gevolg om die verbeteringwaardasiebedrag betaalbaar te verkry. Die twee bedrae (erf en verbetering) onderskeidelik per maand saamgevoeg gee ons die maandelikse bedrag ten opsigte van eiendomsbelasting betaalbaar.

Graag hoop ek en wil ek vertrou dat u asseblief hierdie skrywe sal beskou as ‘n pleidooi om u hulp om sodoende die broodnodige impak te bewerkstellig. Ek versoek diegene met nodige empatie om my asseblief onverwyld te kontak in ʼn poging om die situasie te beredder. Dis uiters dringend nodig. Die arme weduwee met die onrealistiese 204,9% verhoging, ten opsigte van die verbeteringwaardasie word ge-terroriseer en is boonop iemand nie skollasties genoeg bekwaam nie, nes die ander benadeeldes.

Voorts vertrou ek dat staatsinstellings soos die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, asook die kantoor van die ouditeur-generaal, om asseblief spesifiek die Arandis 2024 eiendomsbelastingfiasko te ondersoek. Ek is in besit van die relevante en stawende dokumente.

Word plaaslike owerhede ooit eerstens doeltreffend opgelei en tweedens word hulle met tussenposes gemonitor? Ek betwyfel dit sterk.

My waarderende dank omdat u, u tyd moes spandeer en opoffer om hierdie elle lange klaglied te lees. Maar laat my hoop my nie beskaam nie.

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer