No Image Caption

Dienslewering in Namibië

Lesersbrief
MARIO BONTHUYS SKRYF:

Wat die ou wêreld en diegene wat vra: “Where is that hell hole?”, ook al wil weet, Namibiërs is gesellige mense.

Ek het ervaar dat die staat en sy mense wat bedien moet word, werk saam in, seker die heel “moeilikste” departement, binnelandse sake.

Nou die dag het ek verskeie besigheid om af te handel by binnelandse sake. Met ’n vooraf dikbek met ’n veronderstelling vir dit wat wag, sit ek af daarheen. My broertjie, Deon Eysele, is saam met my vir bystand. Daar is wragtig oop parkering teenaan die pragtige binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit se gebou beskikbaar. Geen leeglêers. Die nuwe gebou is vriendelik en so ook die personeel en besoekers.

My dikbek kry skaamte nog voordat dit my beurt is om voor die bedieningsvenstertjie te kom staan. Die mense om my groet soos ou bekendes. Praat openlik, vra raad en gee raad omtrent die vorms wat voltooi moet word. Voordat ek venstertjie toe geroep word, gee die “gemeenskap” om my my die stukrag met, “dis nou jou beurt.”

By die venstertjie val my dikbek heeltemal plat. Ek hou van aangename mense. My vriend, Martin Diekmann, het my gewaarsku: “Pasop, die Namibiërs is nie net vriendelik nie, hulle is ook baie bekwaam.”

Ek wil eers net so ’n bietjie afdwaal. Om met “die publiek” te werk is seker die ondankbaarste werk wat daar is. Amptenare moet kan lees waar daar niks geskryf is nie. Hulle moet hare op hul tande hê. Hulle moet alle emosies, gebaretaal en verbale aanvalle in verskeie tale kan hanteer. Hulle moet polities, alle gelowe en alle rasse-aangeleenthede die rug op kan draai en dan nog glimlag ook.

Die binnelandse sake-gebou is vriendelik ingerig. Ook in dié opsig dat alle verwante en bystandsgeriewe in een gebou gesetel is. Dit is soos ’n inkopiesentrum waar jy alles onder een dak kan koop. Vanaf ’n oliekol tot ’n wonderwerk. Voor elke diensvenster is sitplek. Hierdie sitplek en beurtafwagting word spontaan deur die publiek hanteer.

Dit is hier waar ek nederig word. Jy sit nie gefrustreerd en wag nie, jy ontspan. My boeta Deon raak spelerig in gesprek met ’n klein Nama-dogtertjie van twee weke oud in haar ma se arms. Ek kyk na die oue en die jongetjie en ek besef, binne in binnelandse sake se gebou is daar nog ’n magdom “binnelandse sake”.

Nadat ek binne ’n betreklik kort tydjie my sake gemaklik afgehandel het, sien ek iets raak. Om ’n nuwe ID-kaartjie te bekom, wag jy tussen een en twee weke. Vir jou nuwe paspoort neem dit twee dae. Merkwaardig!

Op die roltrappe (wat werk) kom ek ’n verdere iets agter. My dikbek het nou ’n glimlag geword. Ek is daar weg soos ’n vrolike kat met sewe swaaiende sterte.

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer