Die taal se fakkeldraers
My pa was glo eens ’n kranige digter en liedjieskrywer. Daarvan kan ek jou nie vertel nie, want die pragtige gedigte en lirieke uit my pa se pen is vir my soos die sprokies van prinsesse en drake – stories van een dag lank, lank gelede.
My ma het my een keer vertel dat ek en my ouboet nog nie eens ’n glinstering in hulle oë was toe hy die laaste keer sy hart op papier uitgestort het nie. Tog, het sy vertel, is dit dalk waar ek my vernuf met woorde vandaan kry.
Waarom het my pa ooit opgehou skryf? Ek sweer as ek lank genoeg na hom kyk, begin hy lyk soos ’n man wie se siel septies in sy lyf geword het.
Ek kan my net indink hoe dit moet voel as jou bloed so erg in jou wese stol dat jy dit nie meer op papier uitkry nie. Hoe siek moet jy wees om tot op daardie punt te kom? Hoeveel sieker maak dit jou as die siekte en die sepsis en die gal vir jare en dekades sonder enige uitlaatklep in jou vaskeer is?
Dalk meng ons idees van manlikheid en dit wat ons van mans verwag nie mooi met poësie en pragtige woordjies nie. Dalk was daar nie ’n plekkie groot genoeg in hierdie wêreld vir hom om elke weergawe van homself daar te kan inpas nie en hy moes moeilike besluite neem. Miskien is dit hoekom my pa opgehou skryf het.
Dalk is my pa nie die enigste een wie se pen opgedroog het nie. As ek vir jou moet sê watter Afrikaanse digters en liedjieskrywers wat ná 1955 gebore is, vir my die moeite werd is om aandag aan te gee, sou ek sukkel. Dis name soos Antjie Krog en Breyten Breytenbach wat my bors bietjie hoër laat staan as dit by my taal kom.
As jy na meeste van die groot name in Afrikaanse poësie gaan kyk, was hulle hoofsaaklik weerstandskrywers. Ons onthou die gediggies vol hartjies en soentjies wat ons elke Valentynsdag afstof, maar die meeste – en die beste – van hul werk is ’n noodkreet, ’n gebed en ’n protes sonder fyn, afgeronde woordjies.
Waaroor skryf ons digters en liedjieboere vandag? Nie oor die voortdurende gevolge van apartheid nie en ook nie oor hulle broers en susters wat saans met leë mae in plakkershuise gaan slaap nie.
Nie die feit dat die hardgewonne vryheid vir derduisende mense net mooi niks in die sak gebring het nie. Nee wat, solank ons ’n huis in Ludwigsdorf of Silver Lakes het, hoef ons kuns niks tot die somtotaal by te dra nie. Hierdie is nie die soort kuns wat my trots op die taal maak nie.
Ons kla alewig oor die toekoms van die taal en die feit dat jongmense verengels, maar Engels het iets om te sê. En dit wat belangrik genoeg is om te herhaal, word uit ander tale in Engels vertaal. In Engels is daar iets om te hoor en iets om voor te staan.
Ek sê nie alle kuns moet intellektueel wees of sy vuiste in die lug rondswaai nie, maar in hierdie stadium skree ons, Komma weer ons en begin ons Kopskudrevolusies – maar vir wat? Ons het baie om te sê, maar ons swyg soos die graf in die aangesig van die monsters wat ons moet aanvat en dit maak my skaam oor my taal.
In die mees praktiese sin is taalkuns belangrik omdat ons net woorde kan gebruik wat ons reeds ken. Ons kan net bydra tot die weerstand teen kwessies wat ons tot diep in ons siele kan verstaan.
Die digters was nog altyd die mense wat vir ons die woorde en die emosie gegee het wat ons saam met ons oorlogsveld toe vat. My generasie gaan in die naam van Afrikaans met net ons eie hoop daardie stryd aansê, want ons generaals het nooit vir ons ammunisie gegee nie.
Ons het eens ’n taal gehad om voor te veg, maar nou het ons ’n taal om voor Dagdronk te word, voor te Dans Dans Dans Dans en voor Gatvol te wees.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie