Die staarsiekte
Die staarsiekte
Die manier waarop ons wit en swart uit die grysareas van ons bestaan maak, het my nog altyd aangegryp.
Selfs as kind het ek vir my sesde verjaardag op ’n “tyd”-partytjie aangedring. Ja, soos in “tik-tok-tik-tok”-tyd. Die rede hiervoor was omdat ek nie kon verstaan wíé het namens almal besluit hierdie sou die manier wees waarmee die mensdom sal tyd hou en hoekom almal dit net so aanvaar het nie.
My plan vir ’n Mona Lisa-partytjie toe ek nege geword het, was nie so suksesvol nie. Mamma het eenvoudig haar voet neergesit en besluit ek kry ’n pienk partytjie, ongeag of ek kon begryp waarom Da Vinci se sogenaamde “meesterstuk” bekend was of nie.
Voor jy vra oor die obsessie met die skildery, dink gou daaraan: Bekend omdat hy gesteel is? Hoekom sou enigiemand omgee om ’n onbekende skildery te steel? Bekend omdat hy juis uit die Louvre gesteel is?
Weer eens, hoekom sou hierdie kunswerk belangrik genoeg wees om in die eerste plek in die Louvre te hang? Die naaste antwoord wat ek al kon kry, is dat sy bekend is vir haar driehoekvormige glimlag. Sê vir my hoekom dié glimlag so spesiaal is en ek gee jou ’n blerrie Datsun.
My nuuskierigheid is die enigste konstante metgesel wat ek in my lewe gehad het. Dit neem my innerlike dialoog oor. My kop maal elke dag met eienaardige vrae soos die verband tussen die antimaterie (anti matter) wat mens se liggaam afgee en jou algehele “vibe”, of hoe ons definisie van intelligensie in die era van kunsmatige intelligensie mag verander. Het ons as mensdom ooit behoorlik ’n definisie van intelligensie gehad of is dit ook maar net “vibes”?
Ek kan my verstom as ek iemand teëkom wat net geen nuuskierigheid in hulle het nie. Daar is werklik sulke mense daar buite! Hulle gee nie om oor wat in die wêreld aangaan of hoe hierdie wêreld werk nie. Hulle gee nie om hoe vliegtuie vlieg nie, hulle gee net om dat die ding nie onverwags ophou vlieg nie. Julle, dis ’n siekte!
Onlangs by die universiteit het ’n lektor gevra wie weet van die volksmoord in Rwanda. Ek het vaagweg iets oor die Tutsi’s en die Hutu’s onthou, maar die lyne is gekruis.
Onmiddellik begin jeuk die nuuskierigheid diep in my wese. Ek moet onmiddellik op Google se “case” klim en hierdie drade ontrafel. Ek gaan ook nie vir jou sê wie is wie nie – die klein bietjie vreugde wat jy daaruit kan put om uit te vind, los ek vir jou.
Toe ek op ’n Wikipedia-blad beland, kyk ek op en sien byna 30 jongmense wat voor hulle uitstaar. Geen emosie, geen vrae, geen nuuskierigheid agter hulle oë nie. Ek was seker ek is dood en is reguit na my eie persoonlike hel toe gestuur. Hoe leef ’n mens so?
Ek sê nie ’n mens moet alles weet nie, maar om net oukei te wees as jy nie weet nie? Hierdie is die beste era om in nuuskierig te wees! Jy het byna die somtotaal van die mens se kennis in die palm van jou hand! Hoe kan jy met leë oë voor jou uitstaar wanneer daar ’n wêreld daar buite is waarvan jy kan leer?
Wie het die sprankel in ons oë en ons gesamentlike verwondering oor die wêreld van ons weggeneem? Dit is nie net jongmense wat doelloos en sonder emosie sit en staar nie.
Ek sien dit in verskillende soorte mense van verskillende ouderdomme. Dit het tot op elke vlak van ons samelewing deurgedring. En hoe verander ons dit? Dít is een draad wat ek nog nie reguit kon Google nie.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie