Die hiërargiese strewe na nêrens
DIETER IAN MAREE SKRYF:
Op ’n dag bevind hy, die huursoldaat hom in ’n onbekende, grys en grenslose landskap waar die wrede realiteite van die lewe elke fantasie, droom of ontvlugting genadeloos verpletter en dit sonder enige begrip of aanduiding hoé hy daar beland het.
Hy kuier nou al 41 jaar in die warboel van die mensdom en daar was oomblikke van verligting, tye wat dit beter gegaan het en waar ’n onskuldige glimlag op sy gesig dit gewaag het om diep uit sy laaste warmte te kruip – nie vir te lank nie en vir geen ander se genot nie!
Sy veg ook haar gevegte, soms met haarself of met hom of met enige persoon wat haar kroos ’n skewe kyk gee. Intussen het al twee gegroei en sterker geraak in ’n harde wêreld – ons het seker nie ’n keuse nie ?
Maar soos die seisoene van die lewe onherroeplik plek maak vir roes en die jare nou maar onverpoosd en medepligtig aanbeweeg, begin besef hy egter dat elke geleentheid nie altyd om ons daaglikse brood gaan nie.
Dit gaan in baie gevalle uiteindelik ontmasker word as ’n beterweterige strewe om ’n onversadigbare ego aan ’n bodemlose trog te hou, soms tragies ten koste van ’n ander lewende wese se brose droom of basiese oorlewing.
Vir haar neem dié tipe liefdelose wysheid en kreatiwiteit ook elke dag ’n nuwe gestalte aan, wat natuurlik die grys en grenslose landskap meer onleefbaar maak vir haar groen koring en diegene wat nie juis weet hoe om te klim en met dieselfde skuif na bo, iemand anders te vertrap nie!
“… It is too bad… if we settle for finessing cures tailored for each ravaged tree while ignoring the poisonous landscape that feeds and surrounds it ….” het Toni Morrison op ’n dag geskryf.
Wat die paartjie egter steeds met intense verontwaardiging ontwyk, is hoe ’n enorme stuk potensiaal en deursettingsvermoë vanaf geboorte sonder hulle medewete sameswerend deur ’n oënskynlik beskaafde samelewing as ’n geregverdigde middele ingespan word, veral om ’n onheilige, hiper-individualistiese lewensbeskouing te bevorder met ontnugterende gevolge wat baie verder as ’n enkele leeftyd strek?
Menigte voorligtingsessies het nog altyd gefokus op wat hy of sy eendag in die lewe wil bereik, maar enige konstruktiewe bydra tot die groter prentjie waarvan hulle deel vorm, was tot op hede buite rekening gelaat!
Nóú begin albei koorsig aan die wonder óf wakker word “… met watter koue vernuf of toerusting word geklim, wie verskaf dit en hoe vergelyk jy die sum-total van ’n akademiese of professionele prestasie met die waarde van ’n lewe op aarde in ’n land met die grootste gaping tussen ryk en arm?
Wat wil ons teen die einde van die dag aan wie bewys met ’n intimiderende titel op ’n planeet waar die mees kwesbare lede van die wêreldbevolking se enigste voedselbron toenemend krimp weens faktore buite hulle beheer…?”
Én dit is juis hier waar die politikus en skrywer Pregs Govender in haar boek getiteld: Love and Courage, A Story of Insubordination die fatale nutteloosheid van ’n hiërargiese strewe na mag en status wil tuisbring met die volgende gedagte: “… Memory had surfaced and beyond it, a glimpse that none of us are fixed in heroic or despotic moments of history. Life, as it waxes and wanes, always provides opportunities for our humanity to emerge.”
Is dit dan nie in die donker seisoene van ons kort bestaan waar ons pligsgetrou herinner word aan ons feilbaarheid, ons sterflikheid en die roekelose onvoorspelbaarheid van ’n lewensverloop waaraan alle mense ongeag watter status of magsposisie jy beklee, onderhewig is nie?
Volgens Govender sal hiërargiese strukture en die gepaardgaande strewe altyd deel wees van ons samelewing, maar wat van ’n meer laterale benadering ten opsigte van die reg op lewe, menswaardigheid, vryheid en sekuriteit van elke persoon by hierdie tydelike woning wat moontlik die res van ons lewensreis met deernis en betekenis kan verryk?
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie