Die dinge wat nie gedeel kan word nie
Die media is aansienlik meer ingewikkeld as die ink op hierdie blaaie – of altans, die ink op hierdie blaaie maak ons reeds ingewikkelde wêreld nog meer vol draadwerk.
In 1994, drie jaar voor die eerste tekens van sosiale media die lig gesien het, het een mediateoretikus gesê dat die bekendstelling van ’n nuwe medium tot die reeds bestaande web van die media, die wêreld onherroeplik sal verander.
Nege jaar nadat hy dit gesê het, het Facebook en LinkedIn vir die eerste keer aanlyn gekom. Meer as twee dekades later kan ek en jy sê ons het met ons eie oë gesien hoe Meryowitz se woorde waar geword het.
Terwyl ons samelewing elke dag verander het, en steeds doen, het ons menslike natuur ongeskonde gebly soos hy was en ons menswees het die nuwe medium gebruik om ons ou maniere ’n nuwe baadjie aan te trek.
Die “ek vs. jy” en uiteraard die “kyk, ek het iets wat jy nie het nie”-deel van ons, het in die eggokamers van sosiale media net vererger.
En die groot ironie is dat sosiale media en die digitale media gesorg het dat daar baie min dinge is wat net ons s’n is. Alles word deesdae afgeneem en geplaas, ge”like”, gedeel, geliefd en gehaat deur enigiemand, enige tyd, enige plek.
Dit was eers hierdie afgelope naweek tydens die Teater- en Filmtoekennings toe ek besef het dat dit die ouer van hierdie kunsvorme was wat die warboel van sosiale media ontduik het.
Daar is een teaterstuk wat ek met my hele hart wou sien, maar ek was in die buiteland toe dit op die planke was en toe ek daar in die Nasionale Teater sit en slegs ’n uittreksel daarvan kon sien, was ek spyt.
Ek begin dink aan die ander toneelstukke oraloor die wêreld waarvan ek in die sosiale media gehoor het, maar nooit kon sien nie: Asa Butterfield in Second Best, Luke Thompson in A Little Life en Andrew Scott in Hamlet.
Elke persoon in daardie gehore het iets wat ek nie het nie en waarskynlik nooit sal hê nie. Hulle het ’n oomblik wat verby is en nooit weer sal gebeur nie. Hulle het ’n asemteug wat hulle kon skep in die stilte wat die akteur aan hulle geskenk het.
Hulle het ’n traan wat saggies oor hulle wang kon rol in ’n emosie wat hierdie teaterstuk vir hulle en ’n paar ander in die teater gegee het.
Selfs die prag van sommige films sal nooit myne wees nie. Amy Berg se It’s Never Over, Jeff Buckley en Oscar Boyson se Our Hero, Balthazar is slegs twee films wat onlangs in beperkte teatervrystellings – natuurlik aan die anderkant van die aardbol – vertoon word.
Kuns verander ons in baie spesifieke maniere en ek sal nooit weet hoe hierdie werke my wese kon verander het nie.
Terselfdertyd weet ek iets wat daardie gehore nie weet nie. Ek weet hoe werke soos Baxu and the Giants en ǂAoni //Aes jou siel oopbreek en jou ’n nuwe mens maak. Ja, ons kunste kan ook oopbreek, nuutmaak en heelmaak.
Dit is nie sommer net ons ou Mickey Mouse-storietjies nie – dit is ook volwaardige kuns en dit is ons s’n om te besit en te beskerm.
Die mediateoretici vertel dat nuwe media tyd en plek saamdruk – dat enigiemand, enige plek te enige tyd toegang tot iets kan hê. Dit is juis die dinge wat totaal buite hierdie wêreld is wat ons iets gee om binne die kringe van sosiale media te kan sê: “Kyk hier, ek het iets wat jy nie het nie.”
Ek het ’n oomblik van stilte, ’n oomblik van emosie, ’n traan, ’n glimlag; ’n stukkie van die ewigheid wat nooit joune kan wees nie.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie