Die dehidrasie van ons oase
Sedert sosiale media posgevat het, staan joernaliste en kyk hoe die ryk kleure uit die oase waarin hulle hul lewens en loopbane gebou het, stelselmatig verdof en doodgaan.
Die mediahuise beloof met elke grootskaalse afleggings dat dit die laaste keer gaan wees. Tog moet ons oor vyf jaar weer hoor dat honderde kollegas die trekpas by hul mediahuise gekry het.
Ek het nog altyd geglo as jou besigheid besig is om weg te kwyn, is dit nie ’n besigheid wat verdien om te oorleef nie – die aanvraag sou mos daar wees as jou besigheid so belangrik was, of hoe? En die waarheid is dat daar ’n enorme aanvraag na inligting is – die aanvraag bestaan skynbaar net nie meer vir tradisionele mediaprodukte nie.
Dit sou piekfyn wees as die mediabedryf eenvoudig ’n transformasie moet ondergaan en homself op nuwe platforms oorplant. Hoeveel keer het hierdie bedryf nie al ’n nuwe baadjie aangetrek sedert sy oorsprong in die Acta Diurna (59 BC) nie? Ons het dit al gedoen, ons kan weer. Of kan ons?
Die probleem met die nuwe baadjie wat ons moet aantrek, is dat daar dié keer van die media verwag word om die baadjie te koop, terwyl die kleremaker al die wins vir ons werk inwin.
Een van die mediabedryf se slimkoppe, Nicholas Carr, het hierdie in 2018 die “Great unbundling” gedoop.
Dit werk só: Die media het nog nooit sy wins uit sy verkope gemaak nie, maar eerder uit die advertensies wat daarin bevat is, maar skielik moet hulle hul inhoud deur nuwerwetse platforms versprei wat namens die instelling advertensies aan inhoud koppel en natuurlik ook die opbrengs daarvoor inwin.
Die platforms het nie joernaliste in hul diens wat vir hulle inhoud skep nie – alles word gratis vir hulle gemaak – maar tog moet die instellings wat die inhoud skep, steeds salarisse betaal sonder dat enige betaling gemaak word vir die inhoud wat geskep is. Vir dié platforms sou die verdwyning van media-instellings skynbaar geen verskil maak nie. Daar is genoeg mense wat inhoud skep.
Of dit nou “gehalte”-joernalistiek is wat demokrasie bewaar en of dit Betsie se resep vir sjokoladekoek is – solank daar inhoud is waaraan hulle reklame kan koppel, is die saak reg met hulle.
Gevolglik moes mediahuise oor die afgelope dekade of twee sy begroting bietjie vir bietjie sny tot daar net ’n geraamte van ’n nuuskamer oorbly.
Die natuurlike gevolg is dat die media óf op dieselfde terme as ander inhoudskeppers moet werk, wat in baie gevalle die etiese kode waartoe ons onsself verbind heeltemal laat vaar, óf alewig een trappie agter Jan Alleman (wat deesdae ’n “citizen journalist” is) bly, en sodoende nooit die platform se Monopoly-spel kan wen nie.
Ek dink ons gaan weer ’n verandering in die mediabedryf se rol sien, aangesien daar derduisende weergawes van Betsie se sjokoladekoek daar buite is. Die media se voordeel, volgens my, is dan in sy vermoë om te onderskei. Om die koring van die kaf te skei.
In ’n wêreld wat toenemend uitgeput is – van advertensies, van skerms, kan die gekerm van kennisgewings op ons skerms, van aandag wat aanhoudend in alle rigtings vereis word – is die oomblik se stilte en geverifeerde inligting dalk die lafenis wat nodig is.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie