Leandrea Mouers
Leandrea Mouers

Daar is inspirasie oral om jou

Leandrea mouers
Ek weet nie of dit die flieks is nie, maar daar is hierdie narratief dat inspirasie net op sekere tye kom – en as jy die inspirasiebus verpas, is die geleentheid daarmee heen.



Wel, ek dink nie so nie.



Soms verg dit net om ’n bietjie rond te kyk. Jy kan dit in die alledaagse vind – in die mense wat douvoordag opstaan, nie omdat hulle moet nie, maar omdat hulle kies om aan te hou.



Die ma wat kosbakkies voor sonop pak, die visserman op pad see toe, die onderwyser wat die ekstra myl loop om ’n skoolkind te help, die kapana-stalletjie wie se vure al hoog brand vir die middagete-stormloop. Hulle sien hulself dalk nie as inspirerend nie, maar hul deursettingsvermoë en hul goedhartigheid is presies dit. Soms skree inspirasie nie, dit fluister.



In die stil oggende wanneer dit net jy en jou koppie koffie is, en die mooi gesang van die voëltjies, in ’n baba se glimlag. Dit glinster selfs in jou eie weerkaatsing – in moë oë wat al die mooi en die lelik gesien het, maar steeds na môre kyk.



Ons leef in ’n wêreld wat ons voortdurend aansê om inspirasie “daar buite” te soek: In glansryke lewens, groot prestasies of verafgeleë plekke. Maar miskien kyk ons net in die verkeerde rigting.



Ware inspirasie gaan nie daaroor om iets buitengewoons na te jaag nie. Ek dink dit gaan daaroor om die “gewone” as “buitegewoon” raak te sien.



My kollega Leena Ndakevondjo het onlangs ’n video gemaak van ’n vroutjie van Swakopmund wat kus toe gekom het op soek na ’n beter lewe vir haarself en haar kinders. Sy het nie bakhand gestaan nie – sy het sommer skouer aan die wiel gesit en besluit om skaapkoppe en -pote te kook en te verkoop. Die video staan nou op 66k views.



Nog ’n video – dié keer deur Adam Hartman – wys ’n spiraalpaadjie wat met strandklippies uitgelê is. Met sowat tien wye draaie is die ontwerp indrukwekkend sirkelvormig en simmetries, wat besoekers binne twee tot drie minute na die middelpunt lei. Die klippies vorm die rande, terwyl die sandpaadjie jou na binne lei. Die video het ook nou al 109k views.



En net verlede week het twee toergidse, Luciano Kooitjie en Juandre Gouws, gedurende die nag die pad Meobbaai toe aangepak om toeriste wat daar ’n noodlanding moes maak, te gaan haal. Hulle ry die pad – langs die see – amper elke dag, en hulle het nie twee keer gedink om dit in die aand aan te pak om te help nie.



Hierdie is dalk doodgewoon, alledaags, maar as dit nie vir my – of vir jou, liewe leser – help om dinge ’n bietjie anders te sien nie, dan is dit dalk tyd dat ons dit doen.



Kom ons vat dan ’n oomblik. Staan stil. En luister dieper. Daar is skoonheid in die chaos, wysheid in die stilte en betekenis in die alledaagse.



Jy hoef nie te wag vir ’n weerligstraal-oomblik, ’n “light bulb”-oomblik of ’n perfekte sonsopkoms om jou hartsnare te roer nie. Al wat dit soms kos, is net vir ons om te kyk. Mooi te kyk. En dit raak te sien.



[email protected]



Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer