No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NELEksodus 7:4: “Hy sal wel nie na julle luister nie, maar dan sal Ek Egipte my mag laat ervaar.”



Ek kan nie praat nie. Farao sal nie luister nie. Só protesteer Moses. Elke keer verseker die Here hom egter van sy hulp en teenwoordigheid. Hierdie keer herinner God vir Moses dat hy nie alleen gaan nie. Hy gaan met koninklike gesag, en Aäron, sy broer, sal sy woordvoerder wees (Eksodus 7:1).



Hoekom stuur God sy bood­skappers as Hy reeds weet dat mense nie sal luister nie? Farao is weerstandig. Tog beveel God vir Moses om te gaan. Esegiël word gestuur om met ’n hardkoppige volk te praat. Jesaja word opdrag gegee om die waarheid te verkondig, selfs wanneer dit op dowe ore val. Hoekom?



Hierdie gedeelte beklemtoon dat God ook in Egipte werk. Ons hoef nie ’n nasionale bekering te verwag nie. Die Here bevestig eerder sy gesag oor Farao en die gode van Egipte. Deur tekens en wonders (7:3-4) sal sy mag bekend word. Egipte móét leer dat die ware Here nie een van hulle afgode is nie, maar die lewende God van die Hebreeuse slawe.



God se tydsberekening kan soos ’n lang ompad voel. Ons verlang na onmiddellike geregtigheid. Maar God se vertragings is nie vergeetagtigheid nie – dit dien ’n groter doel. Sy naam moet bekend word onder al die nasies.



2 Petrus 3:9 herinner ons dat God nie traag is om sy beloftes na te kom nie. Hy wag geduldig. Hy wil hê dat almal Hom sal eer.



God van barmhartigheid, laat die wêreld u grootheid ken. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer