No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NELJesaja 33:22: “Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red.”



God regeer vanaf sy troon in Sion. Vir die Israeliete was Sion meer as net ’n plek – dit was die simbool van God se teenwoordigheid, mag en geregtigheid. Uit Sion vloei geregtigheid. Vyande word daar geoordeel. Israel het dit dikwels verkeerd verstaan, maar enige verwysing na Sion het vir hulle hoop gebring.



Tydens die bedreiging van die Assiriese ryk verklaar die profeet Hom as die ware Koning – die Een wat lewenslange vertroue werd is (Jes. 33:6). In teenstelling met die korrupsie en wreedheid van Assirië se heerser (33:1,7–9), is die Here die Regter, Leier en Koning (33:22), wat met volmaakte reg en geregtigheid regeer (33:5). Hy sou binnekort Assirië se mag verbreek. Selfs die swakkes en kreupeles sal dan oorwinning ervaar (33:23). Die eens magtige onderdrukkers sal niks wees nie. God se mense sal vrede en genesing beleef (33:24). Geen ongeregtigheid sal in sy teenwoordigheid voortbestaan nie (33:14–16).



As Christene sien ons selfs meer: Jesus Christus is Here, en Hy sal terugkeer om vanuit die Nuwe Jerusalem te regeer. Hy maak alles nuut (Openbaring 22:1–5). Sy heerskappy is nie vir een nasie nie, maar vir gelowiges uit elke nasie. Jesus is Here – ons Koning, Regter en Verlosser. Hy regeer vir ewig!



Here, open ons oë vir die toekoms wat U belowe het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer