Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

BYBELSE WYSHEID

Mandy Rittmann
DR. ANNES NELHebreërs 12:6-7: die Here tug hom wat Hy liefhet...Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders.

Die ateïstiese filosoof, Friedrich Nietzsche, het opgemerk dat die dinge wat ons nie doodmaak nie, ons sterker maak. Sy pa, ’n Lutherse predikant, is dood toe hy net vyf jaar oud was. Sy jonger broer is ’n jaar tevore op die ouderdom van slegs twee oorlede. Nietzsche het die grootste deel van sy lewe aan swak gesondheid gely. Miskien was ­hierdie woorde die enigste manier hoe hy sin kon maak van sy lyding.

In ’n sekere sin is sy woorde ook waar. Tog is sy woorde ook tragies. Hy het op ’n stadium verklaar dat ateïsme is soos om die wêreld op jou skouers te neem soos Atlas. Daar is geen God nie. Ons is alleen en vir ­alles verantwoordelik. Dis ondraaglik!

Ja, sy woorde maak sin, maar is nie lekker om te hoor nie, veral as jy ­alleen moet ly. Dit is wat anders is vir gelowiges. Lyding kan ’n leerskool wees as jy God as ’n vader ken. Dan kyk ons anders na lyding. Dan weet ons dat God ons liefhet soos ’n vader sy seun liefhet en selfs ons lyding kan gebruik om ons meer soos ­Christus te maak. Johannes Calvyn noem dit die antitese van die operasiemes. Soms moet ons oopgesny word om die gewas te verwyder. Tog is dit ’n liefdesdaad om ons te genees.

Dankie, Vader, vir u betrokkenheid by my lewe, selfs in lyding. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-10-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer