No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NELJakobus 3:6: “Die tong is . . . die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”



Dink aan die krag van ons woorde. Jakobus gebruik ’n paar voorbeelde om hierdie punt te illustreer.



’n Klein roertjie stuur ’n groot skip; ’n stang beheer ’n kragtige perd en ’n klein vonkie veroorsaak ’n massiewe bosbrand (Jakobus 3:3-5). Een woord kan ’n groot impak hê.



Dirkie Smit sê ons woorde kan groei, momentum kry en ’n storie word. Soms kan dit mense seermaak, agterdog skep of selfs hul reputasie skade berokken. Woorde kan nie teruggetrek word nie. Dis soos vere in ’n sterk wind. Spreuke waarsku ons dat “Praat sonder om te dink, kan soos dolksteke wees... Die tong het mag oor dood en lewe...” (Spreuke 12:18; 18:21).



Die Bybel is vol stories van hoe woorde vernietigend kan wees. Byvoorbeeld, Josef se valse beskuldiging deur Potifar se vrou het tot gevangenisstraf gelei (Genesis 39). Josef se broers het hulle pa bedrieg en het jare se lyding veroorsaak. Isebel se valse verslag het tot Nabot se dood gelei (1 Konings 21). Die godsdienstige leiers het valse getuies teen Jesus gesoek (Matteus 26:59-61). Ons woorde het die mag oor lewe en dood.



Laat ons dus versigtig met ons woorde wees. Dit het ’n groot impak op ander.



Kommentaar

Republikein 2025-05-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer