Bybelse wysheid
DR. ANNES NEL
Psalm 53:2: “Die dwaas dink daar is geen God nie.”
Bestaan God? Deur die geskiedenis het baie mense probeer om hierdie vraag te beantwoord. Party kyk na oorsaak en gevolg en sê dat alles ’n eerste beginpunt het. Ander kyk na die orde en doel in die heelal en glo daar moet ’n groot Ontwerper agter dit alles wees.
Sommige mense sê die idee van God kom oral voor. Dit bewys dat God bestaan. Ander fokus op die mens se gewete en sê daar moes ’n Wetgewer wees wat vir ons die idee van reg en verkeerd gegee het. Dat godsdiens in elke kultuur bestaan, word ook gesien as ’n teken dat God bestaan.
Hierdie redes bewys nie volkome dat God bestaan nie. Tog wys dit dat geloof in God redelik is. Geloof en rede hoort bymekaar. Redelike argumente kan God nie bewys nie, maar dit kan help om struikelblokke weg te neem wat mense weerhou om oop te wees vir die idee van God.
Die Franse filosoof, Voltaire, het opgemerk: “Hy wat homself wys ag, o hemel, is ’n groot dwaas.” Intelligensie waarborg nie waarheid nie. Die geskiedenis wys dat slim denkers soos Pascal en C.S. Lewis ’n sterk geloof in God gehad het.
Ongeloof kom maklik, maar geloof groei uit ’n persoonlike ontmoeting met God. In Jesus sien ons God se teenwoordigheid in die geskiedenis en in menslike ervaring. Dit is dwaas om te ontken dat God ook na jou uitgereik het en om sy liefde te verwerp.
Here, open my oë van geloof. Amen.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie