Boedels en testamente in Khomasdal
DIETER MAREE SKRYF:
My dierbare Dallers, terwyl die tydings so op Facebook en op WhatsApp oorgedra word aan vriende en familie wat voos wat geslaan is van hierdie virus, sit daar ook ’n weduwee en kinders wat wonder of hulle nou die dak oor hulle koppe gaan verloor.
Hierdie virus is nou al jare in die familie en kan onkunde genoem word. En die naaste wat ons aan enige vorm van genesing gekom het, is op sosiale platforms – die Universiteit van Facebook!
’n Klein prokureursfirma word oorweldig met vrae oor boedels en testamente. Waar advies aan een familielid gelewer word, beskuldig ’n ander meer veglustige familielid die nederige praktyk van kante kies en verdeeldheid saai.
Die trane loop, die wonde is vars en die seer sit diep en troos gaan nie die gewenste verligting bring nie.
Ons ken mekaar goed, saam grootgeraak in Spokiesdorp of Bethlehem se stofstrate en growwe winkelstoepe.
En ons dra mekaar se pyn en teleurstelling al vir jare deur die Gammamsrivier tot by Goreangabdam.
Wat boedels en testamente in Khomasdal (en Katutura) aanbetref, was die realiteit nog altyd ’n enorme uitdaging. En daai vyand genaamd onkunde, weet presies hoe om die situasie uit te buit.
Baie van die huiseienaars is bejaarde persone wat die plekkies in besit geneem het nadat hulle uit die Ou Lokasie verskuif is. Die eiendomme was destyds meer beskikbaar en bekostigbaar as wat eiendom vandag is.
Daar was ’n ou verweerde stoep aangebring. ’n Saadjie in die droë, klipperige grond gedruk en ’n wingerd aan die lewe gehou, terwyl kinders, kleinkinders en die skoonmense van Upington altyd ’n skuiling gehad het.
Van ons grootmense was ook binne gemeenskap van goedere getroud, wat beteken ma en pa het elkeen oor ’n 50%-aandeel in daai tweeslaapkamerhuis beskik (wat tot 20 mense kan akkommodeer, en dan praat ons nie van die drievertrek-sink-kaia buite nie!)
En diegene wat in die onderwys, verpleegkunde of vir die polisie diens gedoen het, het sommer enige uitstaande bedrag of balans op die huislening by aftrede afgelos en aanvaar dat sake uiteindelik afgehandel is.
Ten tyde van dood, word daar ontdek dat daar nog nooit ’n geldige testament opgetrek was nie. Pa het dus interstaat gesterf en ma maak die kinders met Model se pay en God se genade groot.
“Nou van wanneer af het ’n boedeluitgawes?” wil Ma weet met ’n Dahliastraat-nuuskierigheid wat haar baie verder as standerd 8 kon gevat het.
Alles wat ’n persoon besit het, terwyl hy/sy gelewe het, val in ’n boedel wanneer die persoon tot sterwe kom. Huis, kar, bokke, ou Huisgenote, aandele in ’n maatskappy, juwele, ’n stel kleurvolle Tupperware-bakke en die spelerige hond wat almal loop en bespring.
Tot die potplante ook!
’n Boedel bestaan egter nie net uit aardse goed nie, maar soms ook uit aardse goed wat op skuld gekoop was, of drank wat in die boek geskryf was.
Hierdie skulde wat ten tyde van dood nog nie afbetaal is nie, word dan boedelskuld, en hier praat ons van Foschini, City of Windhoek of ’n kredietkaart (sonder brieke!), of eenvoudig ’n verband wat nog nooit afgelos is nie.
Die eksekuteur is in beheer van die boedel en vorder alle geld en besittings in. Hierdie persoon is ’n prokureursfirma, bank of ’n versekeringsmaatskappy wat ook moet seker maak dat daar genoeg geld in die boedel is, om enige skuld te betaal of te betwis.
Die eksekuteur mag ongelukkig nie aan die goedjies in die boedel vat nie, maar mag as vergoeding ’n fooi van 3,5% van die totale waarde van die boedel hef.
3,5% klink klein, maar dit is juis hier waar die drama begin. . . Telemundo-styl!
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie