Photo Caption
Photo Caption

Boedels en testamente in Khomasdal (Deel 7)

Lesersbrief
Dieter Ian Maree

DIETER IAN MAREE SKRYF:

Terwyl ons aan ’n taai stukkie kerrie matangara (afval) kou daar oorkant Khomasdal Motor Spares, vertel sy vir my van haar planne om saam met ’n vriendin by die kus in ’n ruim drieslaapkamerwoning af te tree – ’n klipgooi van die strand af.

“Mense, maar jy is darem dapper,” is my eerste gedagte en dit vir iemand met ’n hoogs konserwatiewe agtergrond – kerkraadouers, Sondagskool-onderwyseres, koorleier ens.

“Ons gaan die eiendom in ons al twee se name registreer, maar het jou hulp nodig met die inhoud van ’n kontrak wat die verhouding tussen ons gaan reguleer, begin sy met ’n eenvoudige instruksie wat slegs van toepassing op die nie-roerende eiendom gaan wees.

Haar tweede vraag skep ietwat van ’n dilemma, want sy wil weet of hulle wetlik verplig word om melding van die eiendom in hul testamente te maak.

Ek verduidelik gou vir haar opsommenderwys die inhoud van die Boedelwet en sluit dan af met?: ”Ja, julle word verplig, want as een van julle tot sterwe kom, gaan die gestorwe persoon se aandeel in die nie-roerende eiendom direk na haar boedel toe.”

“Nou is daar nie ’n manier om al daai drama te skip nie?” wil sy by my weet. 

“Drama is ongelukkig deel van die lewe, veral as jy verlief is op jou oudag,” dink ek sonder om ’n woord te uiter, maar sluit weer eens af met ’n duidelike: “Nee, nie as die eiendom in julle name geregistreer is nie.”

“Hoe gaan julle vir die beach house betaal?” verander ek die rigting van ons gesprek. 

“Kontant, want verbeel jou ’n bank wat lenings aan afgetredenes toestaan,” glimlag sy.

“Oukei, dit is dan die eerste punt wat ons in julle vennootskapsooreenkoms gaan aanspreek,” bestyg ek met alle gemak en selfvertroue weer my prokureur-perdjie.

“Gaan julle in gelyke dele tot die koopprys bydra?” is my volgende vraag, terwyl ek vir drie olierige Meme-vetkoeke betaal. 

“Yup, ons gaan elkeen 50% tot die koopprys bydra.”

En hier begin flikker die eerste rooi ligte, nie soseer oor die kontantopsie nie, maar die onafwendbare moontlikheid van konflik.

“Hoe gaan dit nou met julle verhouding? vra ek met die hoop sy gaan nie aanstoot neem en dink dat ek nou een of ander professional boundary oorsteek nie.

“Daar is issues soos met enige ander verhouding,” sukkel sy om haar gedagtes te orden, “maar niks wat ’n goeie beradingsessie of kontrak nie kan uitsorteer nie.”

“Julle moet nou net julle somme mooi maak, want ’n dispuut mag dalk rondom die koopprys ontstaan en elkeen se verantwoordelikheid – persentasiegewys.”

“Enige dispuut of konflik kan deur ’n arbitrasieklousule aangespreek word, maar die vraag is nog steeds of julle volwasse genoeg is om rondom een tafel te sit veral nadat sake in ’n suiderlike rigting beweeg het,” deel ek my eerste bron van kommer.

“En dan moet die inhoud van die kontrak met die inhoud van julle onderskeie testamente ook strook,” wei ek verder uit.

Die eerste woorde wat ná ’n paar minute uit haar mond kom, is oor die moontlikheid dat haar vriendin dalk haar aandeel in die beach house gaan verhuur of as borg gaan gebruik of verkoop sonder haar wete of goedkeuring.

“Ons kan natuurlik ’n kontraktuele verbod op sekere handelinge plaas in die afwesigheid van ’n mede-eienaar se wete en goedkeuring,” bied ek kortliks ’n oplossing.

“En wat as sy die dag besluit om haar aandeel in die huis te verkoop, mag ek dan eerste in die ry staan?” wil sy by my weet. 

“Ja,” antwoord ek, “ons noem dit ’n right of pre-emption of ’n voorkoopsreg, maar waar gaan die kapitaal vandaan kom om die kooptransaksie te finansier?” vat ek dit ’n bietjie verder.

“O ja, ek het vir ’n oomblik vergeet hoe die grootmenswêreld operate,” lag sy.

“Een laaste vraag,” dring sy by my aan, “ons al twee travel baie saam en apart, maar wat as beide van ons gelyktydig tot sterwe kom in ’n motorongeluk?”

Ek dink vir ’n oomblik aan al die mense wat hulle in soortgelyke situasies bevind het en antwoord vlugtig dat haar vraag definitief deur die inhoud van ’n testament by ons volgende konsultasie aangespreek sal word.


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer