Photo Caption
Photo Caption

Boedels en testamente in Khomasdal – Deel 5

Lesersbrief
Dieter Maree

DIETER MAREE SKRYF:

In die moeilike ekonomiese tye waarin ons onsself nou bevind, is die vraag op almal se lippe, hoe kan jy dit waarvoor jy gewerk het tot voordeel van jou kinders en kleinkinders beskerm?

’n Trust is definitief een manier om dit te doen! ’n Trust is ’n regspersoon anders as ’n maatskappy of ’n beslote korporasie wat om bepaalde redes gestig word, wanneer ’n skenker/stigter vaste bates/kapitaal skenk, sodat hierdie bates/kapitaal deur trustees tot voordeel van sekere begunstigdes bestuur of administreer word.

Die trustees, wat ’n baie belangrike funksie vervul, word deur die skenker gekies en kan ’n familielid, prokureur of ’n versekeringsmaatskappy wees.

In wese bestaan daar twee tipe trusts, naamlik ’n testamentêre trust en ’n inter vivos-trust.

Die testamentêre trust word ingevolge ’n testament gestig wanneer die erflater/stigter/testateur tot sterwe kom in vergelyking met ’n inter vivos-trust wat gestig word terwyl die skenker/stigter nog lewe.


TESTAMENTêR

Die trust word geaktiveer deur minderjarigheid/minority wat tans enige persone jonger as 18 is. Bates en kapitaal wat aan ’n minderjarige erfgenaam bemaak word, sal dan byvoorbeeld na die S. Nujoma-trust ingevolge ’n trustklousule oorgedra word.

Die kapitaal word in baie gevalle op ’n baie matige en konserwatiewe risikoprofiel belê, om voldoende groei te genereer. Onderhoud/maintenance word dan so ver as moontlik deur die groei en nie juis die kapitaal gedra.

Die trustees gaan slegs onder uitsonderlike omstandighede aan die kapitaal vat. Byvoorbeeld dringende mediese behandeling vir die minderjarige begunstigde.

Wat koste aanbetref, kan die trust administreer word teen 2% van die kapitaal per annum of 0,5% per kwartaal. Trustbalansstate kan dan ook aangevra word om inkomste, groei en uitgawes te monitor.


NIE-ROERENDE EIENDOM

’n Huis/woonstel/plaas word ook in trust bestuur of administreer tot voordeel van die minderjarige erfgenaam.

Die meeste eiendomme word aangewend om ’n huurinkomste te genereer waar die minderjarige by ’n voog of oorblywende, biologiese ouer bly. Die huurinkomste word dan ook belê en ’n gedeelte daarvan word soms aangewend vir die instandhouding van die nie-roerende eiendom.

Waar ’n eiendom aan ’n minderjarige erfgenaam bemaak word, moet die versorging en toesig (care and supervision) aan ’n betroubare, volwasse persoon toegeken word omdat die trustees in baie gevalle nie die kapasiteit het om na die instandhouding om te sien nie.


‘MINOR BENEFICIARY TRUST’

Van die versekeringsmaatskappye het ook wat ons noem ’n Minor Beneficiary Trust waar ’n polisvoordeel wat aan ’n minderjarige betaal word ingevolge ’n begunstigde-nominasie ook in trust administreer word, totdat die minderjarige begunstigde die ouderdom van 18 of 21 bereik.


DIE VOOG/GUARDIAN

Die hoofdoel van ’n trust is om die opvoedkundige doelwit/educational output van die trust te fasiliteer of bevorder. Die voog/guardian wat in die testament aangestel word sal dan met die trustees kontak maak waar daar ’n behoefte ontstaan vir skryfbehoeftes, registrasiefooie, ’n skooluniform, sporttoerusting ens. en die trustees gaan dan ’n direkte betaling (EFT) aan die diensverskaffer maak op grond van die bedrag soos dit op die faktuur/kwotasie verskyn.

Waar daar ’n sekere bedrag aan ’n voog bemaak word, gaan daar nie juis ’n behoefte wees vir die voog of die trust-begunstigde om by die trustees te gaan bedel nie.

Die gevolg is dat die trustkapitaal geweldig meer gaan groei wat tog teen die einde van die dag tot die minderjarige begunstigde se voordeel gaan wees.


LEWENSDEKKING

Op ’n lewenspolis waar ’n stigter/erflater die aansoeker/die applikant en die versekerde lewe is, kan die voog dan as begunstigde aangestel word.

Waar die aanstelling van die voog by wyse van die testament verander word, word die begunstigde op die polis ook aangepas in lyn met die inhoud van die testament. Sodra die minderjarige die ouderdom van 18 bereik, kan die begunstigde vervang word met die minderjarige (wat nou meerderjarig is.)


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer