Boedels en testamente in Khomasdal: Deel 4
DIETER IAN MAREE SKRYF:
Ons wag in spanning op die lente, maar kuier vandag solank met die belofte van warmer weer en beter dae.
Khomasdal het ’n “onderste” winkel gehad met die naam Panorama en dan was daar Beukes Spar met sy eienaar, wat hulle special met kleurvolle pamflette geadverteer het.
Panorama is deesdae net ’n geraamte, maar ons is dankbaar vir die herstelwerk aan ’n ander legendariese tuiste – Namibia by Nite of die Star Hotel. Soos iemand dit op Facebook gestel het – die Star kry nuwe klere!
Maar wat het nou eintlik gebeur of nie gebeur nie, en in wie se hande is daai besighede vandag? En watter lesse kan daar uit die proses geleer word?
’n Vererwing-strategie vir enige besigheid of familie bedryf is nogal belangrik, juis omdat daar soveel partye in hierdie proses betrokke is. Waar daar ’n besigheidsbelang (ledebelang of aandeelhouding) ná afsterwe in ’n boedel beland, gaan daar natuurlik kompeterende eise wees.
Daar is eerstens die oorblywende gade en kinders. Dan kom die werknemers. Die banke is pligsgetrou ook iewers in die ry. Verskaffers en skuldeisers kom ook met ’n uitstaande faktuur of twee.
Mede-aandeelhouers of lede gaan ook op die toneel verskyn, nie net om hulle medelye te betoon nie. Die uitdaging is om al hierdie belange op ’n koherente en sistematiese wyse te balanseer ingevolge die relevante wetgewing.
Hier hang dit ook af van watter tipe entiteit ’n mens te doen het (eenmansaak versus beslote korporasie (close corporation) of ’n private maatskappy. Wat die rede of doel vir die strategie – dood, ongeskiktheid (disability) of aftrede?
Die standaardtestament bepaal dat alles aan ’n vrou en kinders moet vererf, wat die besigheid en sakebelange ook insluit.
Die vraag is, wat kan ’n laerskool-onderwyseres by St Andrew’s Primêr (wat nou onlangs sy 70ste bestaansjaar gevier het!) of ’n HR bestuurder by die Star Hotel oorkant die pad met ’n aandeelhouding in ’n IT firma of ’n ingenieursfirma maak?
En hoe gaan dit die werksaamhede van ’n maatskappy beïnvloed, wanneer iemand met geen opleiding en ervaring twee weke ná die begrafnis by ’n besigheidsperseel opdaag?
Die punt is waar eie besighede bedryf word, moet die besigheidsbelang in die testament gespesifiseer en apart hanteer word, juis om geweldige konflik en litigasie te vermy.
Terselfdertyd is daar ook die oorledene se aanspreeklikheid vir uitstaande skuld wat deur die boedel hanteer moet word. Die eksekuteur kan ook besluit om die besigheidsbelang aan die hoogste bieër te verkoop tot die ontsteltenis van die oorblywende familielede, aandeelhouers of werknemers.
In bogenaamde gevalle word die opbrengs van ’n transaksie eerstens aangewend, om die boedel solvent (bates/kapitaal oorskry laste /skuld) te kry.
My vrae aan julle is:
- Het die oorblywende lede/aandeelhouers/senior werknemers/familielede ’n tipe voorkoopsreg /right of pre-emption om die besigheidsbelang uit ’n boedel te koop?
- Wie of met wat gaan bg. transaksie finansier word? Hier kyk ’n mens gewoonlik na die opbrengs van ’n lewenspolis, maar wat as iemand nie versekerbaar is nie (nie kwalifiseer vir versekering weens een of ander mediese toestand )?
- Hoe gaan uitstaande skuld wat uit die bedryf spruit hanteer word? En dit is hier waar behoorlike boedelbeplanning ’n groot rol speel, omdat die bedryf/bankskuld (of ’n leningsrekening in ’n CC (waar lg.’n lening aan ’n lid toegestaan het) soms nie in verrekening gebring word nie en ’n boedel vinnig vanaf solvent na ’n insolvente status kan verdoem.
- Kan ’n mens nie kontraktueel (en op grond van goeie sakevernuf) bepaal dat die oorblywende lede of aandeelhouers ook aanspreeklikheid gaan aanvaar om enige uitstaande skulde wat uit die bedryf spruit (en waarvoor die gestorwe lid/aandeelhouer aanspreeklik is) af te los as deel van die kooptransaksie soos in vraag 3 vermeld nie?
- In die huidige ekonomiese klimaat gaan die regering deur die Ontvanger probeer om meer geld in te vorder. Kyk mooi na die besighede se oudits, om seker te maak dat daar nie ’n tax liability/debiet ten tyde van dood bestaan nie. En weer eens kan dit nie verminder of vermy word, veral waar daar ander aandeelhouers of lede is?
- Het die besigheid genoeg versekering om enige bedryfskuld onmiddellik af te los? Hoe word ’n surplus hanteer waar die maatskappy bv. die eienaar/aansoeker van die lewenspolis is?
- Building Compliance kan verhoed dat ’n eiendom aan ’n erfgenaam oorgedra word. Moet daar nie gekyk word dat alle eiendomme (Rates and Taxes) in plek is nie?
- Watter praktiese reëlings kan getref word met verskaffers, banke, werknemers, aandeelhouers hangende die finalisering van ’n boedel? Tekenregte, ’n Power of Attorney of ’n reëling met die eksekuteur aangaande die bestuur van die bedryf ensovoorts?
- Waar ’n plaas in ’n CC (beslote korporasie) geregistreer is, moet daar dalk ook nou al met ’n conveyancer/aktebesorger gepraat word oor enige wetgewende verbod/bepaling wat dalk in ag geneem moet word, alvorens landbougrond verkoop of oorgedra word aan oorblywende lede of aandeelhouers.
- Waar daar ’n kontrak of ooreenkoms in plek is om die koop en verkoop van ’n besigheidsbelang te fasiliteer, moet die inhoud van die kontrak met die inhoud van ’n testament strook?
- Wat gebeur as alle lede/aandeelhouers in die bedryf gelyktydig tot sterwe kom byvoorbeeld in ’n vliegongeluk?
In baie gevalle gaan ’n weduwee aandring dat haar man se aandeelhouding/ledebelang te gelde gemaak moet word, maar dan sit die oorblywende aandeelhouers/lede sonder die kapitaal om die besigheidsbelang uit die boedel te koop.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie