Boedels en testamente in Khomasdal (Deel 2)
DIETER MAREE SKRYF:
My dierbare Dallers, ek groet julle vanoggend met die helende klanke van Patsy Cline se weergawe van Just a Closer Walk with The. . .
Just a closer walk with Thee
Grant it, Jesus is my plea
Daily walking close to Thee
Let it be, dear Lord, let it be…
Ons innige simpatie en meegevoel aan die bedroefde vriende en familie wat geliefdes die afgelope paar dae aan die dood afgestaan het.
Koue bedreig van ons buite. Vrees en angstigheid dreig om ons van binne te oorweldig. En al kan ons nie fisies naby mekaar kom nie, gaan ons in hart en gebed nader staan aan mekaar en ’n God wat ons wil troos. . .
I’ll be satisfied as long
As I walk, let me walk close to Thee. . .
Maar voor ons verder gaan stap, moet ’n mens tog seker maak wat is nou eintlik ’n Bate of ’n Las. Wat is myne, joune en uit watter bak gaan ons saam kou.
Plase, plotte, huise, voertuie word besit deur individue en hulle oefen dus wat ons noem privaat – eiendomsreg oor hierdie bates uit. Eiendomsreg of in Engels ’n real right is ’n baie sterk reg indien nie die sterkste nie, en dit stel die eienaar in staat om amper enigiets met daardie bate te verrig.
In Latyn word dit as volg verwoord. . . ius in re propria of ius in res sua.
Kom ons sê gou almal saam. . . “Joes en rys. . .”
Ok tot daar!
Die eienaar mag daai bate wat ’n plaas, huis, voertuig, meubelstuk, pruik, bees of skaap verkoop, verhuur of verruil vir iets anders, of dit as sekuriteit aanwend om by ’n bank geld te leen. Die punt is eiendomsreg stel ’n eienaar in staat om die bate te gebruik soos dit die eienaar se behoefte of begeerte pas.
En dit is juis hierdie bates wat reguit boedel toe gaan.
Gou ’n vinnige vragie aan diegene wat oor die naweek ’n slukkie of twee gevat het: “Sal die woonstel wat ek ten tyde van dood gehuur het ook in my boedel val?”
Aan die ander kant van die ou Groenbrug het ons nou weer ’n Las of liability in Engels wat ’n eis of skuld teen die boedel is. En hier skinder ons met alle saligheid weer van Jet, Foschini, Edgars of City of Windhoek. Die Ontvanger van Inkomste gaan hom ook heel voor in die ry probeer plaas.
Hierdie pêrre gaan nie eiendomsreg afdwing teenoor die boedel nie, maar wat ons noem ’n vorderingsreg. En hy gaan jou nou nie met dieselfde krag en moeite as eiendomsreg aan die bors gryp nie, maar dit is juis hierdie reg wat weet dat Rykmansheuwel onder daai matinee- outfit met die Jack Purcells eintlik as Skuldbult op die doopseël en die kerkregister aangeteken is.
Elke boedel het dus eise teen hom of ten gunste van die boedel wat deur ’n eksekuteur ingevorder word, of afgedwing word. Natuurlik gaan hierdie eise op een of ander manier betwis word!
By ’n solvente boedel is jou bates of inkomste dus meer as jou laste of uitgawes en by ’n insolvente boedel oorskry laste of uitgawes die bates of inkomste.
Een van Khomasdal se grootste uitdagings bo en behalwe die drank en dwelms wat ons mense se lewens so vernietig, is insolvente boedels.
Daar was hopeloos te veel goedjies op skuld gekoop en nie genoeg voorsiening gemaak vir die eksekuteur om ten tyde van dood hierdie skulde af te betaal nie. ’n Insolvente boedel kan ongelukkig nie spoedig gefinaliseer word nie en gaan ’n tydjie hang.
’n Boedel wat te lank hang, skep onsekerheid en konflik tussen familielede veral wanneer boedelbates sonder die wete of toestemming van die eksekuteur begin verwyder word, of omdat geen siel verantwoordelikheid wil aanvaar vir een van jou grootste boedelbates, naamlik die huis.
Ons sluit af met ’n stukkie advies aan ons jong getroude paartjies wat soms lou van die liefde daai brose en onervare huwelik wettiglik en met alle baldadigheid nekhoogte in die skuld wil druk: “Mammie. . . Dêddie voor jy daai duur sitkamerstel of bakkie op skuld gaan koop om vir skoonma te wys wie jou mense is, vra jouself af, of daar genoeg fondse in jou boedel gaan wees om alle uitstaande skuld te betaal as die liewe Here besluit om jou vandag te kom haal?”
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie