No Image Caption

Blaps van die jaar

BENNIE BOBEJE SKRYF:

En dáár begaan die agbare visepresident toe die oningeligte blaps van die jaar tydens Wêreld Inheemse Dag se nasionale viering op 9 Augustus op Tsumeb: Kamtig is die Ovatue en Ovahimbas wat vanaf die Grootmere kom ook inheemse mense. Rêrig? Dit vra vir ’n dieper kykie in dié saak wat baie na-aan my hart lê. Die vraag is, wie is nou eintlik die inheemses van Namibië?

Daar bestaan ’n wanpersepsie dat die sogenaamde swart, Bantoe-rassegroepe inheems tot Namibië op grond van verkeerde feite is, wat natuurlik absoluut ver van die waarheid is. Eerstens, bepaal geskiedenis, velkleur, kultuur, demografie en sosioëkonomiese leefwyse nie of ’n taalgroep inheems is of nie, maar wel hul herkoms, met ander woorde, dit sê nie ’n gegewe taalgroep is inheems net omdat hulle Afrikane, swart, nomadies, soort van “primitief”, gemarginaliseer en lank in Namibië is nie. Net die Eerste Mense van ’n land word as inheemses beskou. Hierdie afbakening sluit dus die Ovatue en Himbas as sogenaamde inheemse mense uit.

Dis algemene kennis wat op wetenskaplike feite en navorsing gebaseer is dat die Bantoe-rassegroepe, onder andere die Capriviane, Damaras, Kavangos, Tswanas, Ovahereros, Owambos en ander bantoe-minderhede, van Wes- en Oos-Afrika afkomstig is en hierheen in twee afsonderlike migrasies, in hul afsonderlike stamme en oor ’n lang tydperk weens verskeie stoot- en trekfaktore verhuis het. Met hul koms het hulle die inheemse Khoesan hier kom vind. Die Bantoes is dus nie inheemses nie. Daar bestaan ook onbetwisbare wetenskaplike en antropologiese bewyse daarvoor.

Die nie-inheemse status van Damaras verg groter aandag. Hulle was die eerste groepe wat vanuit Wes-Afrika hierheen geëmigreer het. As gevolg van hul baie lang verblyf hier, het hulle verkultuur en vernaam hul kultuur en taal volgens dié van die inheemse Nama aangepas. ’n Soortgelyke verskynsel het met die Bantoe-rassegroepe in Suid-Afrika wat klikke in hul tale gebruik, gebeur. Die Damaras is dus só ver van inheems af soos Wes-Afrika van Namibië geskei lê.

Ons weet ook reeds dat witmense vanuit vernaam Europa afkomstig is asook dat daar ’n klein minderheid vanaf Asië en elders uit die wêreld is. Hulle is ook immigrante alhoewel hulle Namibiese burgers en teen dié tyd Afrikane mag wees. Ook hierdie groepe is dus nie inheems tot Namibië nie.

So, wie is dan nou die inheemse mense van Namibië? Ons delf bietjie dieper. Die inheemse Khoesan van Suider-Afrika is die nasate van die oer Sangoan wat nomadies in die middelsteentydperk in Suidelike Afrika geleef het. Die oeroue rotskuns oraloor Suider-Afrika behoort aan hulle en nie noodwendig aan die San net omdat hulle ook ’n soortgelyke leefstyl handhaaf soos dit geskets word nie. In 1920 het ene Schultze, ’n Duitse antropoloog, die direkte afstammelinge van die oer Sangoan die saambreelnaam, Khoesan, aan hulle gegee wat ’n samesmelting is van die inheemse Khoekhoen en San. Die Human Genome Project wat die hele menslike genoom (somtotaal van alle gene) gekarteer het, klassifiseer die inheemse Khoesan onder haplogroep L0. Die res van Namibië se bevolking val onder hul eie heel afsonderlike haplogroeperings. Die L0-haplogroep dra die oudste mitochondriële DNS. Dit maak hulle dus uitsonderlik onder die mensdom. Daar is ook ander afsonderlike genetiese navorsings wat hierdie waarheid rugsteun.

Die inheemse Khoesan word verder onderverdeel in twee subhaplogroepe, naamlik L0d, die Khoekhoen en San wat as geelmense bekend staan, sowel as subhaplogroep L0k, Basters en Kleurlinge wat as bruinmense bekend staan. Subhaplogroep L0k bevat tot 72% Khoesan-gene en is gedeeldelik afkomstig vanaf die inheemse Namakhoen (Namas). Die inheemse Khoekhoen sluit verskeie stamme, onder andere die Namakhoen in Namibië en Suid-Afrika, en die Damakhoen, Hessekhoen, Einikhoen, ensovoorts, in Suid-Afrika in. Ons weet reeds wie die San is. Weens hul eertydse voorouerlike nomadiese bestaan en kulturele en politieke redes het die Basters en Kleurlinge hulself uiteindelik (ook) in Namibië kom vestig, nietemin dra hulle ook daardie oudste mitochondriële DNS. Dit is dus uiteraard net hierdie khoesanoïede groepe wat inheems tot Namibië en Suider-Afrika is, in geheel (Khoekhoen en San) of gedeeldelik (Basters en Kleurlinge (Koi-Afrikaners).

Die inheemse Khoesan-stamme in die algemeen het verdere onderstamme. Ons ken reeds die San-onderstamme. Die Namas bestaan uit die Afrikaners, Bondelswarts, Fransmanne/Koopers, Geelboois, Oorlams, Plaatjies, Riemvasmakers, Rooinasie, Swartboois, Topnaars, Tseise, Vaalgrassers/Tibots, Velskoendraers, Witboois, en andere. Basters bestaan uit die Bosluisbasters (uitgespreek bo-sluis-)/Boslysbasters en Griekwas in Suid-Afrika, Bethanien-Basters en Rehoboth-Basters/Kalahari-Basters in Namibië, en Ouivamo in Angola. Baster met ’n hoofletter B is ’n eienaam teenoor baster met ’n kleinletter b wat ’n skeldnaam is.

Die benaming Kleurling is ietwat meer ingewikkeld. In Suid-Afrika was almal wat as nie-blank en nie-swart, volgens voorkoms en die potloodtoets, beskou is as Kleurlinge met ’n hoofletter K in die 1950’s deur eerste minister, dr. D.F. Malan, se apartheidswette as sulks geklassifiseer. Die khoesanoïede groepe was almal as Kleurlinge beskou. Dus is Basters eintlik ook Kleurlinge op grond van genetiese herkoms, taal en politieke taksonomie. Ander gemengdes was as gekleurdes (kleurlinge met ’n kleinletter k) geag, byvoorbeeld Trevor Noah van Suid-Afrika en Shishani van Namibië. Eers baie later is ’n onderskeid tussen Kaapse Kleurlinge, Kaapse Maleiers en Noordelike Kleurlinge getref. Namibiese Kleurlinge, Noord-Kaaplandse Kleurlinge, Oos-Kaapse en die Goffal van Zimbabwe, byvoorbeeld, is Noordelike Kleurlinge.

En noudat daardie ongerymdheid oor die status van Bantoes hopelik uit die weg geruim is, laat ons nie meer inheemse status aan verkeerde, langtermyn immigrante groepe van verafgeleë lande verleen net om ’n sin van aanspraak aan hulle te verleen nie, maar om die regte en waarste inheemse mense, die Eerste Mense, die inheemse Khoesan as sulks te erken, te beskerm en te vier.



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer