Thusie Gamibes
Thusie Gamibes

Beplan jou vakansie; dis nou of nooit

Vanjaar se feestyd sal ek met Jan Tuisbly se karretjie bly. Ek sien nie kans om vir nog ’n jaar na dieselfde bestemming te reis nie, naamlik Tsumkwe, die hoofstad van Boesmanland.

Oukei, ek mag dalk op die nippertjie van plan verander as daar dalk ’n klein meevaller my kant toe kom. Ons kan net duim vashou.

Elke Desembervakansie en ­langnaweek in die San-wêreld sedert die dae en jare wat ek skool gegaan het, nog tot verlede jaar, is darem net te veel gevra. Selfs al die buurmense se honde, katte en donkies ken my ewe goed, omdat ek ’n jarelange besoeker op Tsumkwe is.

Soms wonder ek of die muskiete my ook goedgesind is en as ’n familielid aanvaar het, omdat ek tot op hierdie ouderdom nog nie malaria gekry het nie. Ek dink hulle moet my ken, want ek kry nooit probleme met muskietbyte nie.

Moenie vergeet van slange en skerpioene nie; ons Boesmans hou baie van hulle. Hulle is nou menslik teenoor ons.

Ek het so gedink, as alles goed afloop en ek kry hopelik die meevaller, gaan ek my eie tjor koop. Verbeel jou my eerste besoek aan Boesmanland met my eie karretjie; dit gaan my ’n trotse besoeker maak. Hou julle duime vas.

Ek sien uit daarna om die kinders langs die paaie te sien staan en te waai en na my te roep “Aunty Maria”.

My hart sal van blydskap pomp, want my mense hou daarvan om langs die pad te staan.

Jy sal dink hulle soek ’n “lift”, maar hulle staan langs die pad net om na die karre te kyk of hardloop langs die karre.

Van Windhoek tot anderkant Grootfontein, het ek klaar besluit, gaan ek ’n drywer huur. Daarna kan hy weer terug-“hike”, want in ons wêreld doer in die boendoes ken ons nie van padpolisie nie. Soms wonder ek omdat dit grondpad is, stel hulle nie belang nie?

As alles goed afloop, sal ek beslis die plaasjapies op Tsumkwe gaan wys hoe dit is en hoe dit voel om ’n nuwe kar met ’n Windhoek-nommerplaat te ry, met “Boesmanland vat my hand” wat speel.

Sjoe, ek sien tog uit na die ­vakansie. Die huisies wat met beesmis gemaak is, wat so lekker koel in die dag is.

Maar as dinge nie volgens plan verloop nie en die bank praat nie met my nie, dan bly ek en my kinders met Jan Tuisbly se karretjie op Osona.

Here, wees ons genadig.

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer