No Image Caption

As jy moet veg vir ’n asdrom

Mandy Rittmann
CHRISNA PELSER SKRYF:

Dit is môre alweer asdromdag, waarheen is die naweek! Die pligsgetroue mans in die straat met winkeltrollies en honde wat gedurig blaf, herinner my dat ek môre my asdrom moet uit vat.

Dit is tyd om kinders by die skool op te tel en ek sien ses mans wat onder ’n boom voor ’n kompleks sit en wag vir elke groen asdrom wat uitgestoot word. Die asdrom is nog nie oor die hek se spoor nie, dan is drie mans gretig om die asdrom te ontvang. Die ontvang ontaard in ’n woordewisseling en geveg, want wie gaan eerste wees om die waardevolste item in die asdrom te kry? Die geveg duur voort en die derde man by die asdrom gebruik sy geleentheid om te kyk wat in die asdrom is.

Terwyl ek verby ry en in my truspieëltjie kyk, wonder ek, as “ons” wat nie hoef te veg vir ’n bietjie afvalkos, leë blikkie of plastiekbottel wat ons kan inruil, ou klere of stukkende speelgoed nie, wel moes veg vir wat ek dink ons oorlewing kan noem, hoe sou ons dag gelyk het, hoe sou ons gemoed gewees het en vir hoe lank sou ons bly veg het?

Dan raak ek sommer filosofies, noem dit maar so en vra myself af, vir hoeveel asdromme sal ek veg en wat is die waardevolste item of persoon vir wie jy dit gaan doen?

En met asdromme bedoel ek my/ons naaste?



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer