Afrikaner – Genesis (2)
JOHANN UYS SKRYF:
In my vorige skrywe (onder die opskrif Afrikaner) op hierdie blad het ek uit die geskiedenis aangehaal oor die tyd toe die Afrikaanse benaming “Afrikaner” vir die eerste keer in Afrika geuiter is.
Ek wil graag vandag daarmee aangaan.
In ’n Samelewing in Wording: Suid-Afrika 1652-1820 (Onder redaksie van Hermann Giliomee en Richard Elphick*) lees ek van mense van “gemengde bloed”, wat onder die van “Afrikaner” bekend was.
Daar staan op bladsy 275 geskryf van “die Oorlams Klaas Afrikaner. Afrikaner het naam gemaak vir homself met sy rol in groot kommando’s wat die koloniale regering in 1792 teen die Khoisan uitgestuur het”.
Ek lees verder in dieselfde boek dat Klaas Afrikaner in die 1820’s die kolonie verlaat het en na Namibië uitgewyk het. Tot hiertoe die vermelding van die van Afrikaner in Suid-Afrika.
Die daaropvolgende melding van die benaming Afrikaner vind ek in 1875 toe ’n groep (wit) Afrikaanssprekendes onder leiding van S.J. du Toit, sy skoolmeester broer D.F., Arnoldus Pannevis en C.P. Hoogenhout in Paarl byeengekom het en Die Genootskap van Regte Afrikaners gestig het.
Heel interessant het die vergadering drie tipes Afrikaners geïdentifiseer: Diegene met Afrikaanse harte, diegene met Nederlandse harte en diegene met Engelse harte. Hulle het daarna onderneem om diegene met Afrikaanse harte te mobiliseer en te versterk.
In 1878 het Jan Hendrik Hofmeyr met sy drukkery by hulle aangesluit en van daar af het die term Afrikaner van krag tot krag gegaan.
Tot vandag toe nog lees ons van Afrikaner-nasionalisme, Afrikaner-kultuur, Afrikaner-bloed, Afrikaner-skap en Afrikaner-dom.
Die H.A.T. beskryf vandag ’n Afrikaner as:
1. ’n Persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming: ’n Afrikaner wat sy moedertaal eerbiedig.
2. Intrekker wat hom aangesluit het by die Afrikaners.
Nou wil ek graag weet hoe het dit gebeur dat wit Afrikaanssprekendes (ter uitsluiting van myself en alle ander inwoners van Afrika) vir hulself die benaming Afrikaner van toe tot die hede gereserveer het.
Enige konstruktiewe bydrae sal hoogs waardeer word.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie