No Image Caption

20 jaar gelede

MAANDAG 12 SEPTEMBER 2005 • Minstens vyf mense wie se name kort-kort in die N$30 miljoen-beleggingskandaal van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (MVK) na vore getree het, kan dalk binnekort in hegtenis geneem word.

• Bejaardes was sedert ­Woensdag die slagoffer van ’n vlaag van plaasgeweld toe daar in twee afsonderlike voorvalle op mense in hul skemerjare op afgeleë plase toegeslaan is.

DINSDAG 13 SEPTEMBER 2005

• Die oneervol-ontslaande Swapo-leier, mnr. Paulus Kapia, die Swapo-jeugliga en verskeie senior Swapo-politici se name staan sentraal in die jongste skandaal wat besig is om binne die regerende party te ontvou.

• Die petrolprys bars volgende Woensdag vir die eerste keer in Namibiese geskiedenis deur die N$5-kerf wanneer ’n verhoging van 40 sent per liter vir loodryke en loodvrye brandstof in werking tree.

WOENSDAG 14 SEPTEMBER 2005

• Die soektog na ’n mislukte belegging van meer as N$100 miljoen deur Namibië se Offshore Development Corporation het skynbaar ’n nuwe koers ingeslaan.

• Borgtog vir die vermeende rowers wat verlede week twee oumense op die plaas Zachas, sowat 50 km suid van Gobabis, aangeval en beroof het, is in die landdroshof op Gobabis geweier.

DONDERDAG 15 SEPTEMBER 2005 • Nóg Mediclinic, nóg die Vereniging vir Mediese Fondse in Namibië (Namaf) wou gistermiddag die aap uit die mou laat oor die stappe wat gaan kom om die jongste krisis in private gesondheidsorg in die land op te los nie.

• Die kans raak by die uur skraler dat die vermiste Duitse toeris, wat hom reeds ses dae sonder kos en skuiling in die Visrivierspoelvallei bevind, lewend opgespoor gaan word.

VRYDAG 16 SEPTEMBER 2005

• ’n Nuwe soort arbeidsonmin broei op die omstrede Ongombo-Wes met werkers se versekering gister dat hulle nie vir ander ­inwoners van dié nuwe staatsplaas opsy sal staan nie.

• Die reuse-veldbrand wat verlede week in die Omusatistreek uitgebreek het, is van sodanige omvang dat lede van die veiligheidsmag nou ingeroep is om die verwoesting te probeer stuit.

Kommentaar

Republikein 2025-09-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer