20 jaar gelede
MAANDAG 31 JULIE 2006
– Een van die pilare van demokrasie, die vryheid van spraak en die media, was die afgelope naweek die teiken van Nujoma-lojaliste om die stigterpresident se aansien in ere te herstel.
– Ná spekulasie oor die identiteit van ’n gesiene sakeman van die Noorde wat na bewering sy eie dogter aangerand en verkrag het, het mnr. Onesmus Tobias Amadhila Vrydag deur sy prokureurs alle aandadigheid aan so ’n vergryp ontken en belowe om met die polisie saam te werk in hul ondersoek na verskeie klagte teen hom.
– Die eiendomsmark in veral Windhoek se spogbuurte beleef ’n insinking met stygende inflasie en hoër rentekoerse wat aan verbruikers se koopkrag knaag.
DINSDAG 1 AUGUSTUS 2006
– Die !Uri !Khubis-vleisfabriek op Witvlei gaan ná 25 maande uit sy as verrys.
– Strenger stappe word geneem om die luggolwe van die Nasionale Uitsaaier (NBC) te suiwer en te verseker dat individue nie belaster word nie.
– Beweerde vuilspel deur prominente Swapo-gesindes om ten alle koste vas te klou aan hul bestuursrol in ’n miljarddollar-vakansieparadys naby die Angolese grens het tot ’n rits klagte by die Teenkorrupsiekommissie (ACC) gelei.
WOENSDAG 2 AUGUSTUS 2006
– Die herlewing van !Uri !Khubis, die multimiljoendollar-verslagtingsaanleg by Witvlei, kan geskied danksy ’n transaksie van sowat N$21 miljoen wat Agribank met die likwidateurs, Investment Trust, beklink het.
– Die plofbare mengsel van politiek en versuurde persoonlike verhoudings is die sondaars wat dreig om ’n beplande fantasie-oord in die Noorde op die rotse te stoot.
– Koud het gister op Aus nuwe betekenis gekry toe kapokvlokkies helder oordag begin val het.
DONDERDAG 3 AUGUSTUS 2006
– Die ontsouting van seewater by Walvisbaai of Swakopmund het weer op die tafel beland en die ryk uraanneerslae van die Namibwoestyn gaan verseker dat dié droom ’n werklikheid word.
– Ryp en baie koue toestande sal vandag voortduur, temperature onder vriespunt is op vandag se voorspelling en die suidooste-wind sal die land steeds met koue lug voer.
– Die spanning van ’n onlangse familieterugslag en moontlik ’n oomblik waarin hy nie die erns van sy optrede besef het nie, het die naweek tot die dood van ’n jong man van Windhoek gelei.
VRYDAG 4 AUGUSTUS 2006
– Dringende regstappe teen die Namibiese regering sal nou bepaal of Mariental die volgende reënseisoen kan oorleef en of Marientallers maar solank hulle koffers moet pak in die hoop om van die vloedwaters weg te kom.
– Die koopkaperjolle is verby, het die sentrale bank gister by wyse van ’n verhoogde repokoers gesê wat as ’n rentekoersstyging van ’n half persent na Namibiërs sal deursyfer.
– Israel en Amerika was gister in die visier van die stigterspresident, mnr. Sam Nujoma, toe hy studente van die Universiteit van Namibië en die Politegnikum van Namibië toegespreek het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie