20 jaar gelede
20 jaar gelede

20 jaar gelede

Eva Rittmann

MAANDAG 17 JULIE 2006

– Die voltooiing van die eerste fase van die noordelike spoorlyn en die opening van die Nahale lyaMpingana-stasie hier hou meer belofte vir die stryd teen armoede en werkloosheid in as bloot die voorsiening van goedkoper, veiliger en betroubare vervoer op die 247,5 km-trajek tussen Tsumeb en Ondangwa.               

– Massa-optrede deur sjebeen-eienaars is Namibië se voorland as die wetgewers en betrokke ministeries nie onmiddellik met die oplossing wat hulle drie weke gelede belowe het, vorendag kom nie. 

– Die Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, dr. Richard Kamwe, het op die vooraand van rondte twee van die massa-inentingsveldtog teen polio gesê hy is bekommerd daaroor dat sekere godsdiensgroepe en tradisionele genesers mense afraai om hulle te laat inent.  


DINSDAG 18 JULIE 2006

– Ondanks ’n geskarrel gister om in die laaste ure voor rondte twee van die veldtog teen polio afskop, genoeg voertuie daarvoor gemobiliseer te kry, is die noodkomitee vir die bestuur van die siekte vol moed dat dié rondte sonder haakplek sal verloop.                    

– In ’n eerste stap om korrupsie by die toetsterrein van NaTIS in Windhoek uit te roei, is ses mense gister in hegtenis geneem oor beweerde bedrog met bestuurderslisensies.    

– ’n Senior bestuurder by die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) se dienste is weens beweerde wanbestuur by die nasionale uitsaaier beëindig. 

                                                          

WOENSDAG 19 JULIE 2006

– Namibiërs het hulle skaars teen die hoogste inflasiekoers in drie jaar gestaal of hulle staar Maandag duurder brandstof met ’n gepaardgaande string prysstygings in die gesig.                           

– ’n Helikopter van die weermag het gistermiddag met leë hande na Walvisbaai teruggekeer nadat geen teken van die Umfolozi in ’n soektog van twee dae in die seegebied noord van Walvisbaai gevind kon word nie. 


DONDERDAG 20 JULIE 2006

– ’n Storm woed op Walvisbaai waar die hawekaptein blykbaar summier geskors en ’n hoëvlak-ondersoek van stapel gestuur is nadat ’n vragskip van 133 meter die naweek “verdwyn” het.     

– Namibië se oudste koerant, die Allgemeine Zeitung, wat vanjaar sy 90ste bestaansjaar herdenk, het die afgelope vyf jaar met rasse skrede gegroei en is van voorneme om hierdie prestasie in die toekoms voort te sit.                  

– Die Minister van Justisie en Prokureur-Generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, het gister in Zimbabwe omstrede uitlatings oor grondhervorming, wat kort vantevore die Namibiese regering genoop het om ’n gerustellende persverklaring uit te reik, herhaal.         

                       

VRYDAG 21 JULIE 2006

– ’n Spesiale taakspan is gister op Walvisbaai in die lewe geroep en ’n internasionale alarmsein is uitgestuur oor die verdwyning van die vragskip, die Michael ‘S’.                       

– In die 90 jaar van sy bestaan het Namibië se oudste koerant, die Allgemeine Zeitung, nie een dag se publikasie misgeloop nie. 

– Môre kan die Suide se maksimum temperatuur tot so laag as 12 grade Celsius wees en minimum temperature onder vriespunt kan ook voorkom wanneer ’n sterk frontale stelsel oor Namibië beweeg.



Kommentaar

Republikein 2026-09-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer