20 jaar gelede
MAANDAG 19 JUNIE 2006
– Vier keer in die afgelope week moes beamptes van die Ministerie van die Omgewing en Toerisme uitgeroep word na voorvalle waar koedoes op onverklaarbare wyse tussen die stad se inwoners beland het.
– Die ontplooiing van altesame 804 voertuie en 6 160 gesondheidsorgwerkers en vrywilligers vir die grootste massa-immuniseringsveldtog ooit in Namibië, het in die vroeër ure gisteroggend begin.
– As die Amerikaanse popprinses Britney Spears Namibië inderdaad nie op haar kortlys vir moontlike geboortelande van haar tweede baba geplaas het nie, sal sy genooi moet word.
DINSDAG 20 JUNIE 2006
– Op die vooraand van een van die omvangrykste nasionale gesondheidsveldtogte ooit in Namibië, het die polio-sterftesyfer gister tot 12 gestyg terwyl 84 mense reeds die gevreesde siekte opgedoen het.
– Die stadspolisie het Sondagnag ’n deurbraak gemaak toe twee misdadigers vasgetrek is wat waarskynlik deel van die groter misdaadnes in die Cimbebasia-woonbuurt van Windhoek vorm.
– Politieke partye sal vandag reeds met die Speaker, mnr. Theo-Ben Gurirab, in gesprek tree om moontlike wysigings aan die Drankwet te oorweeg ten einde ’n meer menslike oplossing vir die huidige krisis rondom die sjebeenbedryf te probeer vind.
WOENSDAG 21 JUNIE 2006
– In die grootste nasionale mobiliseringsveldtog ooit, begin Namibië vanoggend om agtuur om elke mens in Namibië tot Vrydagaand om negeuur teen polio te immuniseer.
– Vrede het oor die Omahekestreek gedaal waar plaaseienaars oor baie jare in veral politici visiere gestaan het weens ernstige aantygings van swak arbeidsbetrekkinge met hul plaaswerkers.
– Premier Nahas Angula het onderneem dat die Regering binne die volgende drie weke ’n praktiese en algemeen aanvaarbare oplossing aan eienaars van sjebeens oor die sjebeenkrisis sal voorlê.
DONDERDAG 22 JUNIE 2006
– Namibië se gesondheidsowerheid het gister, terwyl inwoners hulle in aller yl na immuniseringspunte gehaas het, nog tien mense met akute slap verlamming vir behandeling opgeneem.
– Twee jong mans van Karasburg staar tronkstraf van minstens 20 jaar in die gesig nadat hulle op heterdaad betrap is terwyl hulle skape met jaggewere geskiet het.
VRYDAG 23 JUNIE 2006
– ’n Soektog is gisternamiddag in die verre ooste van die land van stapel gestuur na ’n groot naam in Namibiese en Suid-Afrikaanse toerismekringe.
– Gistermiddag se noodvergadering oor die brandende sjebeenkwessie tussen die Minister van Handel en Nywerheid, die Staande Komitee belas met grondwetlike aangeleenthede en die verteenwoordigers van die sjebeenvereniging het op ’n dooiepunt uitgeloop.
– Voorlopige syfers wys dat nagenoeg een miljoen van Namibië se sowat 1,83 miljoen inwoners hulle op die eerste dag van die landswye massaveldtog teen polio laat inent het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie