20 jaar gelede
MAANDAG 8 MEI 2006
– Die noordelike treinspoorprojek tussen Tsumeb en Ondangwa het Vrydag ’n tree nader aan sy voltooiing gegee toe ’n passasierstrein vir die eerste keer die Onyaanya-oos van Ondangwa, bereik het.
– Die Namibiese held en eerste Speaker van die Nasionale Vergadering, dr. Mose Tjitendero, is Saterdag op luisterryke wyse ter ruste gelê.
– Hoofinspekteur Manfred Sass, die waarnemende bevelvoerder van die polisie se eenheid vir ernstige misdaad, het Saterdagoggend sy geveg teen die dood prysgegee.
DINSDAG 9 MEI 2006
– Behalwe vir ’n ontvouende hervestigingsdrama rondom die beplande oprigting van Namibië se eie Sun City naby die Angolese grens, het die “heersende politieke klimaat” tot ’n aansienlike skommeling in die maatskappy se direksie gelei.
– Die werk van honderde Namibiërs en besoekers wat die afgelope maande bygedra het tot Republikein se geskiedkundige versameling van reënfoto’s.
– Ministers sal eersdaags nie meer Camry’s as ampsmotors ry nie, maar Volvo’s.
WOENSDAG 10 MEI 2006
– Die senior bestuurder wat Maandag in ’n moontlik verreikende arbeidsgeding teen TransNamib aan die wenkant gestaan het, het gister reeds stappe geneem om die nasionale karweier vir beweerde minagting voor die hof terug te sleep.
– Die Ombudsman, adv. John Walters, gaan as deel van sy menseregte-mandaat ’n ondersoek gelas na die haglike omstandighede waaronder vermeende kriminele na hul inhegtenisneming in polisieselle aangehou word.
– Die oudpresident van Namibië, mnr. Sam Nujoma, sal as als volgens plan verloop Vrydag – op sy 77ste verjaarsdag – aansit vir ’n spesiale voorvertoning van die perperduur rolprent oor sy lewensverhaal, Where Others Wavered.
DONDERDAG 11 MEI 2006
– Een van die grootste enkele beleggings in Namibië en sowat 6 000 werkgeleenthede verkeer in groot gevaar weens ’n vakbondgeleide veldtog en lae produktiwiteit van die Namibiese arbeidsmag.
– Die werksaamhede van die dorpsraad van Lüderitz het tot stilstand gekom na al ses Swapo-dorpsraadslede deur die party se distrikkoördineerder geskors is.
– Regslui van TransNamib het gister die versekering gegee dat hulle die dringende aansoek gaan teenstaan wat beweer dat hulle bevele van die Arbeidshof minag.
VRYDAG 12 MEI 2006
– Die Namibia Tourism Expo staan voor ’n groot uitdaging van vernuwing ten einde die sektor se bydrae tot die staatshuishouding te verhoog.
– ’n Moorddrama soos uit die ergste Hollywood-riller het Woensdag die Eenhana-gemeenskap in die Ohangwenastreek geruk toe ’n besete moeder haar kroos van drie uitgemoor het.
– ’n Verstekvonnis ten gunste van ’n keelvol skuldeiser kan beteken dat die opdraggewers van die rolprent oor oudpresident Sam Nujoma, die Pan-Afrikasentrum van Namibië (Pacon), volgende maand nie eens ’n stoel sal hê om op te sit nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie