20 jaar gelede
MAANDAG 24 APRIL 2006
– Namibië en sy mense het die harte van die wêreld se voorste glanspaartjie verower.
– Die sentrale kusgebied lek nog sy wonde van Kruiskaap tot op Walvisbaai nadat ’n reënstorm Donderdagnag die woestyn gelooi het.
– Vyf jaar se reën het binne ’n enkele week op Lüderitz geval.
– Die hoë premie wat op die Universiteit van Namibië (Unam) se integriteit as opleidingsentrum vir die land geplaas word, kan nie prysgegee word vir baatsugtige individue nie.
DINSDAG 25 APRIL 2006
– Namibië se vorige regter-president en ’n voormalige regter van die Appélhof, mnr. Pio Teek, het gister met die aanvang van sy verhoor in die Hoërhof ontken dat hy in Januarie verlede jaar twee jong meisies van Katutura ontvoer en seksueel aangerand het.
– Rolspelers in die land se petroleumnywerheid was gister vol moed dat die voortslepende lugvaartbrandstoftekort voor die einde van die week opgelos sal wees.
– Die uraan-stormloop in die Namib woed voort en nóg ’n internasionale mynmaatskappy het aangekondig dat hy begin het met prospekteringsboorwerk by die Husabberge tussen die Rössing Uraanmyn en die Langer Heinrich-projek.
WOENSDAG 26 APRIL 2006
– Verteenwoordigers van die visbedryf het gister op Walvisbaai besin oor toelaatbare vangste nadat die Kabinet met die snoeiskêr aangelê het.
– Die staat se saak het gister ’n terugslag beleef toe die verdediging vir die tweede agtereenvolgende dag tydens fel kruisondervraging die polisie se ondersoek na die klagtes van seksmisdrywe teen die gewese appèlregter Pio Teek aan flarde geskeur het.
– Die Kunenerivier vloei meer as dubbeld sy normale tempo vir dié tyd van die jaar.
DONDERDAG 27 APRIL 2006
– Leefa Shiikwa, 2005 se Mej. Namibië, is gister sonder seremonie onttroon toe dit aan die lig gekom het dat sy reeds met haar aanwysing as die land se mooiste meisie verlede jaar, ’n getroude vrou was. – Ongopolo het ’n nuwe baas gekry en van nou af is dit weer sake soos normaal by die mynreus wat die afgelope twee jaar wankelend aan die gang gebly het, terwyl koperpryse wêreldwyd die hoogte ingeskiet het.
– Die stem van Namibië se eerste Speaker van die Nasionale Vergadering, dr. Mosé Tjitendero, het gisteroggend stil geraak.
VRYDAG 28 APRIL 2006
– ’n Gespanne vrede het gister oor Lüderitz gehang waar altesaam 13 werkers van die stokvismaatskappy, Seaflower Whitefish Corporation, voor die hof gedaag is oor geweldpleging tydens die voortslepende staking van werkers by dié regeringsmaatskappy.
– Die geboorte van Angelina Jolie en Brad Pitt se eersteling in Namibië sal vir dié land se toerisme doen wat die Toerismeraad se begroting nie in jare kan regkry nie.
– Die plaas naby Kalkrand waar die vermoorde Erasmus-egpaar van Windhoek ’n naweekboerdery bedryf het, is gister op ’n openbare veiling vir vier en ’n half keer sy AgriBank-waarde van die hand gesit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie