20 jaar gelede
Maandag 6 MAART 2006
– ’n Derde groot myn kom in die beroemde uraandriehoek van die Erongostreek.
– Die Regering gaan onmiddellik N$10 miljoen beskikbaar stel om die uitwerking van die vloed op Mariental te verlig.
– Die afwesigheid van vyf belangrike Herero-leiers by die naweek se Ovaherero-beraad op Okakarara het die soeke na eenheid vertraag.
DINSDAG 7 MAART 2006
– Die Namibiese polisie het gister enige kommentaar oor beweringe van erge vergryp deur lede van sy spesiale veldmag (SFF) of die weermag op Mariental voorgehou, waar dieners ontplooi is om die getraumatiseerde inwoners van die dorp te beskerm.
– Namibië is amptelik ’n deel van Amerika se internasionale oorlog teen terrorisme en terreur nadat verdedigingstegnologie uit plaaslike bodem by die Fort Knox-wapensentrum in Kentucky ten toon gestel is.
– ’n Menslike drama het hom gistermiddag in Windhoek se sakegebied afgespeel nadat ’n groep mense in ’n
TransNamib-gebou by die spoorwegstasie gyselaars van ’n huur-twis geword het.
WOENSDAG 8 MAART 2006
– Die goewerneur van die Hardapstreek, me. Katrina Hanse, het die afgelope 24 uur die omstredenheid rondom haar leierskap verdiep.
– Die drama wat hom eergistermiddag by die Windhoekse spoorwegstasie afgespeel het toe verskeie mense deur TransNamib in ’n geboukompleks toegesluit is, het gister in die Hoërhof gedraai met ’n dringende interdik teen die nasionale vervoerkorporasie.
– Die land se nasionale kragvoorsiener, NamPower, gaan as ’n noodmaatreël aanstaande week met ’n uitgebreide bewusmakingsveldtog begin om Namibiërs sover te kry om minder krag te verbruik.
DONDERDAG 9 MAART 2006
– Reënweer bekruip Namibië stadig maar seker vanuit die noordooste en dit lyk of die weerpatroon wat die land die afgelope twee maande oorheers het, weer sy verskyning gaan maak.
– Die raaisel agter ’n duur Russiese passasierstraler wat al vyf jaar op die Grootfontein-lugmagbasis staan en wat aanvanklik direk met die terroristeleier, Osama bin Laden, verbind is, is besig om te verdiep.
– ’n Evalueringspan onder leiding van mnr. Piet Heyns, adjunk-sekretaris van die direktoraat waterwese in die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou, is op die oomblik in Mariental se vloedgebied besig om die area te fynkam na moontlike oplossings teen ’n toekomstige vloed.
VRYDAG 10 MAART 2006
– Kriminele klagte is teen die 50 Oshiwambo-boere gelê wat hul beeste onwettig in die Kwangali-stamgebied in Kavango laat wei.
– Air Namibia se vlugte op die roete tussen Windhoek en Londen is minstens 75 persent vol, het dié redery se departementshoof vir internasionale vlugverkeer, mnr. Wimpie van Vuuren, by die Internasionale Toerismeskou (ITB) in Duitsland gesê.
– Die aanslae van die Hardapdam op Mariental is amptelik die stryd aangesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie