20 jaar gelede
MAANDAG 27 FEBRUARIE 2006
– Mariental is onder water ná die sluise van die Hardapdam Vrydagnag teen ’n uitvloeitempo van byna 3 000 kubieke meter water per sekonde oopgetrek moes word.
– Selfbeheersing is die afgelope naweek in Mariental op die proef gestel toe honderde inwoners van dié Suidedorp dakloos en met skade van etlike duisende dollar gelaat is ná die dorp verspoel het.
– Die droë rivierlope van Namibië wat in enkele oomblik in magtige strome water kan ontaard, het vir die tweede keer in twee weke ’n gesin uitmekaar geskeur.
DINSDAG 28 FEBRUARIE 2006
– Die verslaentheid van honderde Marientallers kan nie versteek word deur hul gelag van ongeloof oor wat presies die naweek op hierdie Suidedorp afgespeel het nie.
– Mariental se oewerboere is platgeslaan, voorlopige opnames wys die skade aan landerye, gewasse en infrastruktuur is veel groter as met enige van die vorige vloede.
– Die lyk van die 14-jarige Herney Jansen wat verlede naweek deur die Goma-Aibrivier meegesleur is, is
gisteroggend vroeg gevind.
– Die Staatsdienskommissie het gister ’n nuwe voorsitter gekry toe mnr. Eddie Amkongo in die posisie
ingesweer is.
WOENSDAG 1 MAART 2006
– Personeel van Ais-Ais het gistermiddag angstig gewag dat die vloedwater wat die naweek uit die Hardapdam gelaat is, hulle tref.
– Terwyl Mariental sy wonde lek, het NamWater bekend gemaak dat hy vanoggend om agtuur weer die sluise van die Hardapdam gaan ooptrek.
– ’n Gesamentlike ondersoekspan bestaande uit amptenare van die Kantoor van die Eerste Minister, die
Ministerie van Landbou, Water en Bosbou en die Namibiese weermag het gister die Noorde besoek om die
omvang van die oorstromings in die streek te bepaal.
DONDERDAG 2 MAART 2006
– “Belaglik! Dit is wat dit is. Hoe verwag hulle moet ons nog aangaan en hoop om weer op te staan met sulke
antwoorde?
– Ná die watervloed Mariental en sy mense die naweek in hul donker uur verenig het, dreig onmin oor die
skenkings van barmhartiges wat nou daarheen stroom, om die gemeenskap te skeur.
– Die groot bringer van vis in die noorde van Namibië, die Efundja, het afgekom.
VRYDAG 3 MAART 2006
– Die skuld vir die Mariental-vloed, skade van etlike miljoene dollar, werkloosheid en die moontlike ontstaan van ’n gesondheidskrisis soos cholera en malaria moet vierkantig geplaas word op die Regering wat kommersialisering en die geldmaakproses aanmoedig.
– Internasionale kontakte gaan deur opposisiepartye in die Nasionale Vergadering (NV) genader word om finansiële hulp om vloedslagoffers in die Mariental-omgewing by te staan.
– “Die geldkis bly leeg… En al wat ons het, is leë beloftes van betaling wat absoluut geen vertroue inboesem nie.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie