No Image Caption

’n Man se besluite

Iréne-Mari van der Walt
Nog voordat ek behoorlik kon ­begryp wat dit beteken om ’n vrou te wees, is daar vir my oor mans geleer.



Mans soek almal net een ding, mans kan hulself nie beheer nie, mans soek net maer, mooi poppies wat hul menings vir hulself hou, mans se ego’s is almal broos, hulle is nie in staat tot liefde nie, hulle dink almal dieselfde, en so kan ons aangaan.



Soos baie vroue, is ek kwaad vir die idee van mans – nie die mans wat ek persoonlik ken nie. Ek is nie kwaad omdat ek so min van mans dink nie, ek is juis kwaad omdat ek weier om so min van mans te dink.



Ek glo mans kan kies om nie al daardie stereotipering ’n werklikheid te maak nie, maar tog neem talle mans die besluit om hulself so te gedra – en dít maak my briesend.



In my lewe was daar al goeie mans én slegte mans (gelukkig baie meer goeies as slegtes) en dit is vir my ’n klad op die naam van elke goeie man wat ek nog ooit geken het wanneer een van hulle hom gedra asof hy net een breinsel het.



Die mans wat ek ken is slim en ferm, tog steeds saggeaard. Hulle is goeie mans wat na hul naaste omsien en nie skroom om hul moue op te rol wanneer daar werk is om te doen nie. En moet nie begin met die snert oor wat dit is om ’n “tradisionele man” te wees nie. Wanneer ek dink aan wat dit is om ’n man te wees, dink ek aan my oupa.



Hy was ’n groot en ongelooflike streng man, maar met sy sagte ­gesag was hy die patriarg van ons familie. Ons het nie vir oupa bevraagteken nie, maar nie uit vrees vir hom nie. Ons het nie vrae gevra nie, want ons het geweet hy het ’n plan.



Ons kleinkinders het geweet ons kon nie sommer net oor oupa loop nie, veral nie so maklik soos ouma nie, maar die twee kleindogters het ’n lewensgrootte pienk pophuis gekry wat oupa met ’n seer rug aanmekaar geslaan het.



Ons kon self die poppe in ons pophuis wees, want oupa het nie ­geskroom om met al sy skete en pyne vir sy kleindogters aan die werk te spring nie. Hier was ’n man wat kon liefhê – hoekom sou ek glo dat die ander nie kan nie?



Jare nadat oupa oorlede is, gesels ek met ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar en as’t ware het hulle op die plaas net langs oupa-hulle gebly. My oupa het hom gehelp om van een of ander pes in sy huis ontslae te raak toe hulle pas daarheen getrek het en hy het geweet hy kon op oupa se ­knoppie druk as hy in die nood was.



Hy was ’n man op wie ons kon ­staatmaak – hoekom sou ek glo ek kan nie op ander staatmaak nie?



Behalwe vir oupa, is daar ’n hand­jievol manspelle wat steeds seker maak dat ek veilig by die huis kom na ’n kuier en vir ander (nie net vroue) hul baadjies aanbied wanneer dit koud is. Hulle lag uit hul maag en praat oor die dinge wat hulle pla.



Oupa het altyd gesê jou besluite sal bepaal wie jy is en as oupa kon ­besluit om ’n goeie man te wees, dan kan al die ander mos ook. Ek weier om te glo dat mans te simpel is om die keuse te maak om beter as hulle biologiese liggaam te wees.



[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer