Weggooibabas mág só in sorg gelos word

Wet reeds in 2019 verander
Die wet maak daarvoor voorsiening dat vroue sonder vrees vir vervolging hul babas by 'n hospitaal of polisiekantoor kan los.
Henriette Lamprecht
Oningeligte besluitneming van betrokkenes, asook onbehulpsame polisiebeamptes moet deels die blaam dra vir die voortdurende verskynsel van weggooibabas in Namibië.

“Mammas verkies dan om maar eerder die ‘onwettige’ roete te gaan, omdat die wettige opsies glad nie vir hulle werk nie,” sê me. Ronel Peters, stigter van Ruah Elohim, ’n veilige hawe vir sorgbehoewende babas in Swakopmund.

Die wet is só verander dat vroue hul babas sonder om hul naam te verskaf of om vervolg te word, by ’n hospitaal of polisiekantoor kan los.

Sy het verwys na een voorval waar polisiebeamptes geweier het om ’n verklaring van ’n vrou af te neem wat haar baba in Peters se veilige sorg wou plaas, eerder as om die baba in die veld te gaan los.

Volgens haar was die beamptes aan diens by die betrokke polisiekantoor “ongelooflik ongeskik en het geweier om ons te help”. Volgens die beamptes moes hulle eerder kinderhof toe gaan, maar dit was op ’n openbare vakansiedag en die hof was toe.

By nog ’n polisiekantoor is Peters van kinderhandeling beskuldig, ondanks die feit dat die ma van die baba herhaaldelik verduidelik het niemand weet van haar swangerskap nie en dat sy nie die baba wil hou nie.

“Dit het vreeslik baie oortuiging gekos dat sy net die verklaring kon aflê en sodat hulle dit kon stempel. Sy (die ma) het agterna gesê, ‘dis hoekom ons ons babas weggooi, want dis net veel minder problematies as die regte kanale’.’’

AGTERNAGEJAAG

In nog ’n voorval is ma wat haar baba by ’n polisiekantoor gelos het, agternagejaag en in hegtenis geneem.

“Sy mág haar baba by ’n polisiekantoor of hospitaal los; sy hoéf nie haar naam te gee nie. Sy kan instap, die baba afgee en uitstap en sy moet toegelaat word om dit te doen.”

Dieselfde tyd wat Peters twee weke gelede die lewelose liggaampie van ’n weggooibaba teen haar vasgedruk het, het ’n kennisgewing op haar selfoon deurgekom dat nog ’n babatjie in Ruah Elohim se bababoks gelos is.

Die tuiste vol liefde en sorg het in 2018 geopen en hier het Peters, haar man Dick en hul span reeds 43 babas versorg wat sorgbehoewend was. Van hulle is intussen wettig aangeneem deur goedgekeurde aanneemouers; van hulle is óf teruggeplaas by biologiese ouers óf deur biologiese familie ingeneem.

ANONIEM

Sedert die bababoks in Oktober 2019 by Ruah Elohim geïnstalleer is, is tien babas reeds anomiem hier gelos.

Toe sy egter twee weke gelede die lewelose lyfie van ’n babaseuntjie onder haar vingers voel, het dit gevoel asof sy in diep waters wegsink, vertel Peters.

“Ek glo my hart het letterlik gebreek. Ek kon voel hoe my siel verpletter word.”

Sy het gebid vir ’n uitkoms en antwoorde, want ná wat sy ervaar en gesien het, was sy nie seker oor die pad vorentoe nie.

“Watter les moes ek hieruit leer. Wat wou God hê moes ek ervaar? Wat moet ek nou doen? Is ek nog steeds gewillig om met my hele hart, al is dit gebreek, my roeping uit te leef en met alles in my te baklei vir dié wat dit nie vir hulself kan doen nie?”

VERVOER-OPSIE

Vandat die wet in 2019 verander is en ’n ma haar baba anoniem kan agterlaat, bied Ruah Elohim ook ’n gratis vervoerdiens na en van die bababoks aan.

“Met ander woorde, geen baba hoef ooit op ’n onveilige of afgeleë plek agtergelaat te word nie! Behalwe dat ons ’n plek van veiligheid bied, is ons ook ’n geregistreerde welsynsorganisasie en ons fokus absoluut op die bewusmaking en voorkoming van babastorting in Namibië; daarom dat ons die gratis vervoerdiens beskikbaar gemaak het.”

Volgens Ronel het vele mammas wat haar al gekontak het, gesê hulle het nie die geld om hul baba na die boks te bring nie. Talle sien ook nie eens kans om ’n maatskaplike werker te kontak nie, omdat hulle nie ontbloot wil word of hul name bekend hê nie.

“Hier het ons ’n babatjie gehad wat sy lewe verloor het en met ’n ma wat tronkstraf in die gesig staar. Nie ver hiervandaan nie stap ’n ma weg van enige vervolging, terwyl sy haar baba ’n kans op ’n lewe in oorvloed gee. Elke baba verdien om te leef en om liefgehê te word.”

Ronel kan by 081 242 6396 gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer