Vir Kersfees: ’n Dak wat nie lek

Henriette Lamprecht
Voor die ergste reën in Windhoek begin val, gaan die dakke van 66 wooneenhede van bejaarde inwoners in Senior Park in Windhoek hopelik ordentlik verseël wees om die water uit te hou.

Die dakke lek al sedert 2018 en gedurende die reënseisoen was sommige van die inwoners se eenhede onder water, wat telkens groot skade veroorsaak het.

Die herstel van die dakke is moontlik gemaak danksy ’n ruim skenking van N$460 000 deur die Duitse ambassade in Namibië aan die WeCare-stigting wat al vir meer as 18 maande baie nou by Senior Park en sy inwoners betrokke is.

Volgens Aletta Hough van WeCare moet sommige van die houtbalke in die wooneenhede ook vervang word aangesien dit heeltemal verrot is, terwyl sommige van die eenhede ook plafonne sal kry.

“Met die vorige swaar reën is van die huisies oorstroom. Die hoop is om volgende week Maandag te begin voor Desember se erge reën,” het Aletta verduidelik.

Danksy die Vereniging van Senior Burgers spog Senior Park nou ook met sy eie jukskeibaan, terwyl WeCare gehelp het om 14 geisers te installeer. Van die inwoners wat uiteindelik ’n geiser gekry het, moes vyf jaar lank sonder enige warm water klaarkom.

Die wooneenheid van ’n inwoner wat erg deur ’n brand beskadig is, is ook heeltemal oorgedoen.

Volgens Aletta het hulle gehoop om ’n stoof vir elke wooneenheid te kan insit, maar het die bedrag toe tot sowat N$700 000 met installasie gestyg.

Intussen word daar hard agter die skerms gewerk om vanjaar op 13 Desember weer aan die inwoners ’n onvergeetlike Kersete met ’n geskenkie vir elkeen aan te bied. Soos verlede jaar is ’n wenslysie van elke inwoner saamgestel oor wat hulle graag in hul Kerskouse sal wil hê. Dit wissel van toiletware, ’n ketel en handdoeke tot lekkernye.

“Hulle vra so min en dit is glad nie duur goed nie.”

Aletta se droom vir vanjaar se Kersete is om vir elkeen ’n vrugtekoek te kan gee, want dis immers nie Kersfees sonder dit nie!

Enige persoon of instansie wat graag skenkings vir die ete en Senior Park se inwoners wil maak, kan Aletta by 081 727 8577 kontak.

“Ons sê vir niks ‘nee’ nie. Van klere tot beddegoed en huisware, solank dit bruikbaar en werkbaar is.”

Die seremoniële ondertekening van die ooreenkoms is deur die Duitse ambassadeur in Namibië, dr. Thorsten Hutter, saam met Aletta en Suzette Williams van WeCare bygewoon.

Die wooneenhede in Senior Park wat deur die staat besit word, is nog nie sedert 1982 ordentlik opgeknap nie, met instandhouding wat uiters ongereeld is. Dit veroorsaak dat die ouetehuis in ’n vervalle toestand is, met beduidende skade weens die dakke wat lek, wat in al 66 eenhede aangemeld is. Dit sluit muf en gebreekte dakteëls in. Buiten vir die verseëling van die dakke danksy die Duitse skenking, sal bestaande strukturele herstel en beskadigde plafonpanele vervang word. WeCare se noue betrokkenheid by Senior Park is om aan die inwoners ’n waardige lewenstandaard te bied.

Die stigting verskaf ook een keer per week ’n maaltyd aan inwoners, ondersteun verskeie ontspanningsprogramme, help met mediese sorg vir inwoners en probeer om die nodigste instandhoudingswerk te doen soos die vervanging van geisers, verf- en ook tuinwerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer