Swaarkry hiér die meeste tuis

Verslag toon gebrek aan basiese geriewe in huishoudings
Volgens 'n opname deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) moet kinders van 11 jaar en jonger soms huishoudings lei.
Yandi Du Plessis
Jo-Maré Duddy – Byna een uit elke vier wooneenhede in Namibië is bloot ‘n plakkershut of "kambashu".

In stedelike gebiede is dit een uit elke drie, volgens die Namibië Statistiekeagentskap (NSA) se 2019-‘21-sensuskarteringverslag wat gister vrygestel is.

Slegs 8,5% van die land se watertoevoerpunte is krane. Byna 36% van die huishoudings wat deel van die opname gevorm het, moet hul drinkwater uit pype buite kry.

Sowat 43% van huishoudings, meeste in landelike gebiede, het geen toiletgeriewe nie en moet hulle tot die bos, rivierbeddings of landerye wend. In stedelike gebiede moet meer as een uit elke vyf huishoudings noodgedwonge die natuur gebruik.

Meer as die helfte van huishoudings in Namibië – byna 88% hiervan in landelike gebiede – gebruik vuurmaakhout om te kook.

Slegs 18,9% van huishoudings in landelike gebiede gebruik elektrisiteit van die land se kragnetwerk om hul huise te verlig. Sowat 62% is afhanklik van batterye, lampe, flitse of hul selfone as ligbron in hul huise.

KHOMAS

Die NSA het in sy opname 507 249 huishoudings besoek, waarvan die meeste (90 834) in Khomas was.

Hiervan woon meer as 40 000 huishoudings, of sowat 44%, in losstaande huise. Meer as 37 000 of 41% moet ‘n plakkershut hul tuiste noem.

Byna 52% kry hul water uit openbare waterpype, terwyl net sowat 13% die luukse van krane in hul huise het.

Sowat 47% het privaat toilette wat aan hoofrioolstelsels gekoppel is, terwyl een uit elke vyf huishoudings hulle tot die bos, rivierbeddings of landerye moet wend.

Die meerderheid huishoudings gebruik elektrisiteit vanaf die kragnetwerk (58%) of gas (32%) om te kook. Byna 64% het netwerk-elektrisiteit om hul huise te verlig, maar 16% moet staatmaak op batterye, flitse, lampe of selfone en 10% op kerse.

ERONGO

Van die 41 912 huishoudings in Erongo wat deel van die opname gevorm het, woon sowat 70% in losstaande huise, vergeleke met 18% wat in plakkershutte bly.

Byna 70% is afhanklik van boorgate met of sonder tenks, terwyl 11% hul water van tenkwaens by dienspunte kry.

Meer as die helfte het privaat spoeltoilette wat aan hoofrioolstelsels gekoppel is, vergeleke met een uit elke vier huishoudings wat spoeltoilette wat aan septiese hoofrioolstelsels gekoppel is, moet deel. Nege persent het geen toiletgeriewe nie.

Sowat 80% is aan die kragnetwerk gekoppel, maar 13% moet steeds vuurmaakhout gebruik om kos te maak.

HARDAP

Meer as 19 000 huishoudings in Hardap is by die NSA-opname ingesluit, waarvan byna 53% in losstaande huise woon. Ongeveer 40% woon in plakkershutte.

Meer as die helfte is afhanklik van boorgate en sowat 14% kry hul water van tenkwaens by dienspunte.

Sowat 48% het privaat spoeltoilette, maar byna 31% moet hulle tot die bos, rivierbeddings of landerye wend.

Sowat 28% is afhanklik van watertenkwaens of openbare waterpype, terwyl meer as die helfte toegang tot boorgate het.

Sowat 69% is aan die kragnetwerk gekoppel, maar 16% gebruik kerse as ligbron.

OMAHEKE

Van die meer as 21 000 huishoudings in die Omahekestreek wat deel van die opname gevorm het, woon 51% in plakkershutte, terwyl 39% losstaande huise het.

Meer as 80% is afhanklik van boorgate vir water, en byna 55% het geen toiletgeriewe nie.

Sowat 69% gebruik vuurmaakhout om te kook, en byna een uit elke drie huishoudings moet batterye, lampe, flitse, selfone of kerse vir lig gebruik.

OMUSATI

Die NSA het meer as 55 000 huishoudings in Omusati besoek. Hier het slegs 28% losstaande huise, met byna 54% wat in tradisionele wonings woon en 11% in plakkershutte.

Die meeste maak staat op pypwater in- en buite hul huise en sowat 61% het geen toiletgeriewe nie.

Sowat 74% gebruik batterye, lampe, flitse, selfone of kerse vir lig, terwyl byna 86% net vuurmaakhout het om mee te kook.

Die meeste huishoudings in Namibië (52,8%) is onder leiding van mans. Die NSA het 94 huishoudings gevind onder leiding van kinders van 11 jaar en jonger.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer