Ongelykheid ’n wêreldwye bedreiging
G20-beraad begin einde vandeesmaand
Die wêreld staar ’n ongelykheidskrisis in die gesig.
Dit is die gevolgtrekking van ’n verslag wat onder voorsitterskap van die ekonoom en 2001-Nobelpryswenner, Joseph E. Stiglitz, met bydraes van kenners Adriana Abdenur, Winnie Byanyima, Jayati Ghosh, Imraan Valodia en Wanga Zembe-Mkabile, saamgestel is.
Dié taakspan beskryf die huidige wêreldtoestande en die afgelope 50 jaar as “armoede te midde van oorvloed; onbeperkte rykdom bo-aan te midde van honger onderaan”.
Die verslag is Dinsdag vrygestel en is deur die taakspan saamgestel wat deur Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, aangestel is om die Groep van 20 (G20)-lande in te lig oor wêreldwye ongelykheid in die aanloop tot die beraad wat op 22 en 23 November in Johannesburg sal plaasvind. Ramaphosa dien tans as die G20-president.
Namibië volg Suid-Afrika as die tweede mees ongelyke samelewing ter wêreld, wat inkomste betref.
Volgens die Wêreldbankgroep bly uiterste ongelykheid, gemeet aan ’n Gini-koëffisiënt (’n statistiese meetinstrument van hoe inkomste in die bevolking van ’n land versprei is) van 59,1, Namibië se ontwikkelingsvooruitsigte teister, terwyl armoede na verwagting meer as ’n kwart (27,5%) van die bevolking teen 2025 in ’n ekonomiese wurggreep sal hê.
Die taakspan het bevind ongelykheid is een van die dringendste struikelblokke in die wêreld vandag, wat baie ander probleme in ekonomieë, die samelewing, politiek en die omgewing veroorsaak.
Verder het die taakspan beslis ongelykheid is nie ’n gegewe nie en dat die bekamping daarvan noodsaaklik en moontlik is. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat ongelykheid die gevolg is van beleidskeuses.
Altesaam 83% van lande in die wêreld ervaar hoë ongelykheid, wat tot 90% van die wêreldbevolking raak, luidens die taakspan.
Alhoewel inkomste-ongelykheid wêreldwyd sedert 2000 afgeneem het, hoofsaaklik as gevolg van ekonomiese ontwikkeling in China, bly dit baie hoog teen ’n Gini-koëffisiënt van 0,61.
Rykdom-ongelykheid het egter tussen 2000 en 2024 toegeneem, met die rykste 1% van die wêreldbevolking wat 41% van nuwe rykdom bekom het, vergeleke met 1% van nuwe rykdom wat na die armste helfte van die mensdom gegaan het. Die rykste 1% se gemiddelde rykdom het met US$1,3 miljoen sedert 2000 gegroei, terwyl arm mense se rykdom met gemiddeld US$585 toegeneem het.
Gevolglik word een uit elke vier mense (sowat 2,3 miljard) in die wêreld geraak deur matige tot ernstige voedselonsekerheid en moet gereeld maaltye oorslaan – 335 miljoen meer mense as in 2019.
Hoë vlakke van ekonomiese ongelykheid kry sterk momentum van sy eie, volgens die navorsing.
Rykdom, sodra dit opgehoop is, word deur erflating aan die volgende generasie oorgedra. In 2023 is daar vir die eerste keer meer nuwe miljardêrs deur erflating geskep as deur entrepreneurskap, luidens die verslag.
Oor die volgende drie dekades sal meer as 1 000 van vandag se miljardêrs meer as US$5,2 biljoen (trillion) aan hul erfgename nalaat. Na beraming sal meer as US$70 biljoen oor die volgende dekade aan erfgename oorgedra word, wat maatskaplike mobiliteit en gelyke geleenthede ondermyn, volgens die taakspan.
Die momentum van ekonomiese ongelykheid is kragtig, maar nie onvermydelik nie, het die taakspan herhaaldelik beklemtoon.
Ongelykheid in uitkomste is in wese ’n politieke keuse, net soos ongelykheid in geleenthede. Daar is egter duidelike bewyse dat optrede deur regerings die verskillende ongelykhede kan teenwerk, volgens die taakspan.
Die taakspan stel voor dat lande planne vir die verligting van nasionale ongelykheid in plek moet stel en doelwitte moet stel om die wêreld terug te bring na ’n punt waar die rykste 1% van die wêreldbevolking nie meer as die totale inkomste van die armste 40% verdien nie.
’n Wêreldliggaam om ongelykheid te volg, dit beter te verstaan en suksesvolle ingrypings te meet, word aangemoedig.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie