Nambuli-egpaar se liefdesprojek bring hoop

CLCC mik vir kinderhuisstatus
Finansiële steun van 'n organisasie in Duitsland maak formele registrasie na 20 jaar moontlik.
Sven-Eric Stender
“Eendag het ek straatkinders gesien wat in vullisdromme na kos soek. Dit het my seergemaak omdat ek kinders liefhet en dit my aan my eie kinderjare herinner het.

“Ek het toevallig geld oorgehad en ek het vir hulle brood gekoop.”

Só beskryf Frieda Nambuli die oomblik – 20 jaar gelede – toe sy besluit het om vir kinders in nood te sorg. Vandag is sy ’n “ma” vir dosyne straatkinders in haar veilige hawe in Okuryangava in Katutura.

Twintig jaar gelede het sy feitlik niks gehad om te gee nie.

Sy is in Noord-Namibië gebore en het haar ouers tydens die bevrydingstryd verloor. Sy het later tydelike verblyf by ’n tannie in die noorde van Namibië gevind en toe by ’n oom in Arandis.

“Ek moes vir myself sorg,” onthou Frieda.

Nietemin het sy daarin geslaag om graad 12 te voltooi. Sy kon toe werk in Windhoek as ’n oppasser en skoonmaker kry. Dit was haar werklikheid toe sy die straatkinders gesien het.

Toe ontmoet sy haar man, Wilbard. Hulle het ’n stuk grond in Okuryangava gekoop, ’n huis daarop gebou en die Children Life Changing Centre (CLCC) begin.

CLCC is ’n veilige hawe vir kwesbare kinders en weeskinders, wat ’n maaltyd, ’n bed en die geleentheid bied vir die kinders om vir skool te registreer. Vandag maak tot 30 kinders, tussen die ouderdomme van 3 en 18, op die sentrum staat.

GEEN SKENKERS VIR BEDRYFSKOSTE

Van die begin af het CLCC op skenkings staatgemaak.

Die grootste projek, die aanbou van ’n kombuis, is deur die Dr. Nikolaus Kappen Stiftung in Stuttgart, Duitsland, gefinansier.

Om egter staatsfinansiering te ontvang, moet die sentrum by twee ministeries geregistreer wees: As ’n welsynsorganisasie by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en as ’n kinderhuis by die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn.

Die sentrum word sedert 2007 as ’n welsynsorganisasie erken, maar om as ’n kinderhuis te registeer moet daar aan streng vereistes voldoen word. Dit sluit in veiligheidsertifikate vir die perseel, ’n organisatoriese struktuur met ’n raad van direkteure en bestuur, ’n finansiële plan, onafhanklike finansiële oudits en jaarverslae.

Dokumentasie vir elke kind is ook noodsaaklik, vereistes wat feitlik onmoontlik lyk om in Okuryangava se daaglikse lewe te vervul.

ILATUYE SAAM MET CLCC

In 2021 het die afgetrede onderwyseres Gisela Fasse van Keulen, Duitsland, Namibië weer besoek.

In die vroeë 2000’s het sy vir etlike jare by die Deutsche Höhere Privatschule Windhoek (DHPS) klas gegee.

Tydens haar besoek het sy Frieda en Wilbard ontmoet en CLCC se behoeftes gesien. Terug in Duitsland het sy die inisiatief ILATUYE gestig, wat in Oshiwambo rofweg vertaal word na “Kom ons stap die pad saam”.

Gisela het familie, vriende en kennisse vir gereelde skenkings gevra en die projek deur die Duits-Namibiese Vereniging (Deutsch-Namibische Gesellschaft, DNG) bevorder.

Aanvanklik privaat, en later deur die DNG, het ILATUYE skenkings ingesamel en dit elke drie maande na Namibië oorgeplaas om die kinders se voedselkoste te dek.

Na nog ’n besoek in April 2025 het ILATUYE sy steun uitgebrei. Sedert Junie gee tutor Paula Makango een keer per week middaglesse. Sy het self by CLCC grootgeword.

’n Nuutgestigte “skoolfonds” verseker dat CLCC die registrasiegeld vir al die kinders vir die 2026-skooljaar kan betaal.

LANG LYS VAN BEHOEFTES

Daarbenewens help ILATUYE nou vir Frieda en Wilbard stap vir stap op hul pad om as ’n kinderhuis te registreer.

ILATUYE-konsultant en -koördineerder Onai Mutizwa bespreek en ontwikkel finansiële planne saam met hulle, help met boekhouding en die aansoek om nodige dokumente en gee raad oor die opgradering van die perseel en fasiliteite. Die lys van behoeftes bly lank.

CLCC het tafels en stoele in hul eetkamer benodig waar die kinders hul huiswerk kan doen en vir middaglesse en ’n skootrekenaar vir navorsing vir skoolwerk.

’n Wasmasjien was ook broodnodig, want tot dusver het die ouer meisies die wasgoed vir 40 kinders met die hand gewas. Die lys het ook ’n voertuig ingesluit om kinders na skole te vervoer en ondersteuning vir gesondheidsorg en hoër onderwys.

Bo-aan die wenslys was ordentlike behuising vir die meisies aangesien hul tydelike verblyf elke keer oorstroom het as dit hard reën.

ILATUYE kon dié wenslys vervul danksy ’n ruim skenking van die Arbeiter-Wohlfahrt (AWO; Werkerswelsyn) Mannheim: Maande lank het AWO-werknemers die sente van hul salarisse verbeur en in sommige gevalle selfs aansienlik meer bygevoeg.

Vir Frieda en Wilbard, om nie eens te praat van die 24 meisies wat nou vier kamers en geriewe by CLCC geniet nie, is dit die beste Kersgeskenk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer