‘n Ander gesig van kinderarbeid

Angolese vlugtelinge soek heenkome in Namibië
Nadat hulle uit hul tuisland gevlug het op soek na groener weivelde, het die groep begin om houtware in Oshakati te verkoop om kop bo water te hou. Tuyeimo Haidula van ons susterkoerant Namibian Sun het met hulle gesels.
Tuyeimo Haidula
Hierdie is ‘n verhaal van staatlose kinders. Hulle het geen plek om ‘n tuiste te noem nie. Hulle slaap snags op bokse. Hulle wortels is in Angola, sê hulle.

‘n Vyfjarige stel haarself as Maria Pikena voor. Sy kan nie haar van uitspreek sodat ek ordentlik kan uitmaak wat sy sê of dit kan spel nie. Sy is by haar ma, Swana Pikena.

Ek gee vir hulle my selfoon en notaboek om hul name te spel. Maria skryf: “M no B no N b B nmmmm bill bill. Dit is hoe jy dit spel!” sê sy.

Haar ma probeer nie eens nie. Sy sê vir my om te let op die vokale om dit te spel. Ek skryf dit neer en wys haar en vra of dit korrek is. Sy knik vererg.

Swana weet nie hoe oud sy is nie. Hulle het nie nasionale dokumente nie. Sy sê sy het nog nooit die binnekant van 'n klaskamer gesien nie; haar dogter ook nie.

Ons verstaan nie mekaar nie, so Maria is ons tolk. Hulle is sedert April of Mei in Namibië en sy het Oshiwambo op straat geleer. Swana sê hulle het Angola verlaat op soek na groener weivelde in Namibië, maar hier sukkel hulle ook.

Maar sy hou vol “dit is beter hier as terug by die huis”.

KINDERARBEID

Die jong meisie sê sy en vier ander trotseer die snikhete om houtlepels en -koppies te verkoop. Hulle dwaal rond in Oshakati se buitelugmark en sommige supermarkte op soek na kliënte.

Sommige is kaalvoet. Hulle deel een ysblok wat ‘n barmhartige Samaritaan vir hulle gegee het.

Swana het ‘n baba op haar rug. Hy huil histeries en die groep van vyf skree vir haar: “Hy is honger! Voer hom!"

Sy haal haar bors uit sodat die baba kan drink. Maar sy kla dat sy ook moeg en honger is en min tot geen melk produseer nie. Sy dra ook houtlepels en koppies.

Die groep verkoop die houtlepels vir N$10 en die bekers vir N$5. ’n Knopkerrie sal jou N$20 kos.

Ten spyte daarvan dat dit onwettig is in Namibië, is kinderarbeid 'n algemene verskynsel. Soms is die situasie so erg dat kinders “verkoop” word om elders op plase of in huishoudings te werk.

STRAF

Die arbeidswet verbied die indiensneming van kinders onder die ouderdom van 14, wat ‘n strafbare oortreding is.

Diegene wat skuldig bevind word, staar ‘n boete van tot N$20 000, maksimum gevangenisstraf van vier jaar – of albei – in die gesig.

Maria en haar groep sê hul ouers stuur hulle om die produkte te verkoop om geld te maak vir kos.

“Op dae wat ons niks verkoop nie, gaan slaap ons honger. Party dae koop mense vir ons kos wanneer hulle nie die produkte wil hê wat ons verkoop nie,” sê sy.

Hulle praat oor mekaar in pogings om hul stories met Namibian Sun te deel.

“Ons het nie gisteraand geëet nie. Ons kon net een houtlepel verkoop. Die meel is klaar. As mense ons net van kos, klere en komberse kan voorsien om onsself te beskerm,” sê hulle.

“Ek wil ook graag skool toe gaan. Ek dink ek is goed met tale, dit is hoekom ek my ma kan help om jou te verstaan,” sê Maria. Sy lag baie en maak gereeld grappies.

Die meisie sê haar pa woon in Angola en hy maak die houtlepels en koppies. Wanneer hulle dít wat hulle het klaar verkoop het, reis hulle saam met hul ma’s na Angola om nuwe voorraad te gaan haal.

‘INGEWIKKELDE SITUASIE’

Die polisiebevelvoerder in die Oshanastreek, kommissaris Naftal Lungameni Sakaria, sê die kwessie van staatlose kinders wat deur kinderarbeid uitgebuit word, moet deur beide nasies aangeroer word.

Die polisie het egter nie veilige huise vir hierdie kinders nie, voeg hy by.

“Die kwessies moet deur die twee regerings op bilaterale vlak bespreek word. Ek het nie eers die geriewe om hulle toe te sluit sodat hulle gedeporteer kan word nie. Dit is 'n ingewikkelde situasie,” sê hy en versoek Namibian Sun om immigrasiebeamptes te betrek.

GEEN KOS, KOMBERSE

In die vroeë oggendure van 5 Oktober keer ek terug na hulle plek. Hulle is nie daar nie. Hulle is tuis by die informele nedersetting Oshoopala in Oshakati.

Hulle het ‘n verhuurder, en betaal N$20 vir vier mense per dag vir verblyf. Hulle word in 'n hut gehuisves wat geen beddens of matrasse het nie. Op dae wanneer hulle geen geld gemaak het nie, laat hul verhuurder hulle toe om “gratis” te bly.

Maria en haar groep waarsku my dat hulle nou die huis moet verlaat om hul goedere te begin smous.

“Ons kliënte loop terwyl ons hier saam met jou wag,” sê sy en die ander bars uit van die lag en knik instemmend. Die kinders is ook besig met skoonmaakwerk.

Ons stap saam terug. Hulle stap in ‘n ry na hulle gewone staanplek en steek die pad as ‘n groep oor. Hulle stop vir voertuie, maar meestal sonder om te kyk of daar gevaar is.

Hulle doel is om hul bestemming so vinnig as moontlik te bereik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer