Raadslid Daniel Tjimutambo Kuuoko. FOTO VERSKAF
Raadslid Daniel Tjimutambo Kuuoko. FOTO VERSKAF

‘Mynbou by Epupa verdryf nomadiese gemeenskappe’

Kommer oor lewensbestaan, weiding
Vergaderings is in verskeie nedersettings tussen EPL-houers en hoofmanne by Ekungirua, Otjimuhaka, Oroutumba, Ehomba, Ohamaremba, Omuhonga en Ombuka gehou om die kwessie te bespreek.
Clemans Miyanicwe

Kommer heers oor mynboubedrywighede wat teen ’n vinnige tempo in die gebied van Epupa in die Kunenestreek opskiet en na bewering nomadiese gemeenskappe verdryf.

Die Epupa-kiesafdeling se raadslid, Daniel Tjimutambo Kuuoko het gesê die betrokke owerhede reik na bewering eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL’s) uit sonder om voldoende te beoordeel of die gebiede beide weiding en mynboubedrywighede kan dra.

“Die mynboubedrywighede verdryf en vernietig die lewenstandaard van ons mense,” het Kuuoko aan Network Media Hub (NMH) gesê.

“Die ministerie van myne, energie en nywerheidsontwikkeling soneer en reik net EPL’s uit sonder om die gebiede te besoek om vas te stel of weiding vir vee en mynboubedrywighede saam kan saam bestaan,” het hy gesê. 

“Die inwoners is nomadiese mense wat van hul vee leef. Die meeste van die grasveld is nou vir mynboubedrywighede geoormerk, ongeag diegene wat daar met hul vee woon.”

Kuuoko het gesê vergaderings is in verskeie nedersettings tussen EPL-houers en hoofmanne by Ekungirua, Otjimuhaka, Oroutumba, Ehomba, Ohamaremba, Omuhonga en Ombuka om die kwessie te bespreek.

’n EPL verleen aan maatskappye eksklusiewe regte om sistematies na spesifieke minerale binne ’n aangewese gebied te soek.

Die raadslid het gesê minerale wat in die gebied ontgin word, bevoordeel nie plaaslike gemeenskappe nie.

“EPL’s moet nie aan buitelanders verkoop word nie. Na my mening word EPL’s as grondgryp gebruik, wat plaaslike mense en inwoners uit hul gebiede verdryf,” het hy gesê.

Kuuoko het gesê EPL-aansoekers besoek dikwels nie die gebied nie, aangesien aansoeke vanuit Windhoek gedoen word.

“Hulle neem nooit die situasie op die grond van onskuldige mense in ag wat daar sedert hul voorouers bly nie en die EPL word sonder die medewete van die inwoners toegeken,” het hy beweer.

Kuuoko het gesê EPL-houers besoek die gebied gewoonlik eers vir die eerste keer wanneer hulle tydens hul aansoekproses vir ’n omgewingsimpakstudie (EIA) ’n toestemmingsbrief van die hoofman soek.

Hy het gesê tydens sulke besoeke word geld of kos dikwels uitgedeel.

Hy het verder beweer dat wanneer gemeenskapsvergaderings met lisensiehouers gehou word om EPL’s te bespreek, word diegene wat die meeste geraak word nie altyd genooi nie.

“Soms word die geld wat gegee word as ’n omkoopmiddel gebruik en skep dit verdeeldheid en gevegte onder hoofmanne, gemeenskappe in bewaringsgebiede en tradisionele owerhede,” het Kuuoko gesê.

Hy het voorgestel dat die huidige stelsel van EPL-toekennings gestaak moet word en dat die wet gewysig moet word om te verseker dat plaaslike inwoners as begunstigdes geprioritiseer word.

“Sommige mense het vroeër vir EPL’e aansoek gedoen en nooit geslaag nie weens hoër vereistes en [die hoë koste vir] konsultante vir EIA. Dit is te duur vir werklose mense.

“Vereistes moet verslap word sodat inheemse en plaaslike mense ’n kans kry om as eerste bewoners van daardie gebiede uit hul eie natuurlike hulpbronne te baat,” het Kuuoko gesê.

Hy het beweer dat soveel as 70% van die Epupa-kiesafdeling se grondoppervlakte van 236 171 deur EPL-houers beset word, met slegs beskermde gebiede wat onaangeraak bly.

Hierdie syfers is nie deur die myneministerie geverifieer nie.

Hy het bygevoeg dat Epupa-kiesafdeling die tuiste van 26 491 inwoners is.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer