'Maak kraamverlof langer'
Alhoewel die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) se verhoging in kraamvoordele verwelkom is, maan sommige die aanpassing moet gepaardgaan met breër veranderinge en ondersteuning vir gesinne.
Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge Wise Immanuel gister aangekondig die SSC-kraamvoordeel styg met ingang 1 Oktober van N$15 000 tot N$20 000.
Petrina Shitalangaho-Mutikisha, ’n ma van ’n tweeling, het in reaksie gesê die gesprek moet verder strek as net die bedrag wat aan ma’s betaal word en moet fokus op die duur van kraamverlof.
“Drie maande en twee weke is eenvoudig nie genoeg tyd om van ’n bevalling te herstel, borsvoeding te vestig, vir ’n pasgebore baba te sorg en emosioneel en fisiek voor te berei om terug te keer werk toe nie,” het sy gesê.
Shitalangaho-Mutikisha het gevra dat kraamverlof verleng word tot ten minste ses maande vir ma’s wat aan een kind geboorte geskenk het, tot tien tot 12 maande vir ma’s van tweeling of meerlinge.
Sy het gesê die versorging van ’n tweeling bring bykomende eise mee, insluitend voeding, slapelose nagte, mediese afsprake en voortdurende aandag.
“Ek praat uit ondervinding. Ek was daar. Ek is ’n ma van ’n tweeling en ek weet presies hoe dit voel,” het sy gesê.
Shitalangaho-Mutikisha het gesê haar tweelingdogters het geweier om bottel te drink, insluitend uitgepompte borsmelk – en het verkies om direk aan die bors te drink. Dit het haar terugkeer werk toe besonder uitdagend gemaak.
Sy het ook bevraagteken of werksplekke oor voldoende geriewe vir borsvoeding en die uitpomp van melk beskik.
Volgens Shitalangaho-Mutikisha moet kraambeleide rekening hou met die realiteite van moederskap, insluitend herstel, borsvoeding en om ’n band met jou baba te vorm.
“Moederskap is nie ’n projek van drie maande nie en om ’n tweeling groot te maak, is beslis ook nie,” het sy gesê.
Die voormalige parlementslid, Hidipo Hamata, het op sy beurt gesê pa’s behoort ook finansiële ondersteuning te ontvang.
“Mans behoort ook N$5 000 te ontvang, gegewe dat hulle hul swanger vroue ondersteun,” het Hamata gesê.
Hy het die verhoging as ’n progressiewe regeringsinisiatief beskryf en gesê die kwessie is in die parlement bepleit.
’n Onderwyser by ’n staatskool wat verkies het om anoniem te bly, het gesê die verhoogde SSC-voordeel spreek nie die finansiële druk voldoende aan wat onderwysers tydens kraamverlof ervaar nie.
“As onderwyser help dit glad nie. Die regering staak die salaris vir drie volle maande en jy moet jou maandelikse betalings doen met daardie skamele bedrag van die SSC,” het die onderwyser gesê.
Die onderwyser het kraamverlof as stresvol beskryf, veral vir onderwysers wat tydens skoolvakansies geboorte skenk.
“Onderwysers, veral diegene wat tydens die vakansie geboorte skenk, bring daardie kort tydjie van twee of drie weke saam met hul pasgebore baba deur.
“Wanneer die skool dan heropen, keer jy terug werk toe om kraamverlof te vermy,” het die onderwyser gesê.
Die onderwyser het gesê die situasie beklemtoon die kommer oor die vraag of die huidige voorsiening vir kraamvoordele vroue in die onderwys voldoende ondersteun.
Ingevolge die nuwe struktuur wat deur Immanuel aangekondig is, sal siekteverlofvoordele vir die eerste 12 maande van N$11 250 tot N$15 000 styg, terwyl betalings vir die daaropvolgende 12 maande van N$9 750 tot N$13 000 sal verhoog.
Voordele vir sterfte, aftrede en ongeskiktheid sal elk van N$12 000 tot N$15 000 styg.
Immanuel het gesê die veranderinge is daarop gemik om voorsiening te maak vir “lewensveranderinge” en om die finansiële las te verlig wat werkers en hul gesinne in die gesig staar wanneer hulle nie kan werk nie of wanneer ’n broodwinner sterf.
Die minister het gesê die verhogings is in ooreenstemming met ’n opdrag deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah om die lewens van Namibiërs te verbeter.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie