Koud en honger op straat
Elizabeth Kheibes en Phillipus Josef
Die meisietjie wat kaalvoet langs ’n besige straatkruising in Windhoek staan en ’n klein plastiekhouertjie amper so groot soos haar hande vasklou, kan nie ouer as drie jaar wees nie.
Soos motors verby haar beweeg, ry sommige stadiger en draai bestuurders hul ruite af, ander kyk weg. Slaan die verkeerslig oor na groen, beweeg sy weg na waar nog kinders op die sypaadjie sit.
Naby haar lê ’n baba slap in die arms van ’n ouer kind. Die baba se oë knip-knip om wakker te bly in die koue. Nog ’n kleuter sit stil op die sypaadjie. Vir inwoners van Windhoek het die Angolese kinders ’n bekende toneel van die hoofstad geword wat oorleef op die aalmoese en kos wat hulle van toeris tot inwoner bedel.
Die afgelope paar maande het hul getalle in Windhoek asook op ander dorpe in die land gegroei.
Van hulle is skaars oud genoeg om te kan praat. Ander se stemtoon is gedemp en hulle loer voortdurend oor hul skouers voor hulle antwoord.
Van die kinders met wie Network Media Hub (NMH) gepraat het, het vertel hoe hulle per bus van Angola na Namibië gereis het. Een seun het gesê hy het N$50 vir die reis betaal.
’n Ander groep seuns wat tussen vier en nege jaar oud geskat word, sê hulle het sonder hul ouers gereis en beskryf hulself as weeskinders. Dit kon egter nie onafhanklik geverifieer word nie.
Vrees is ’n herhalende kenmerk in baie van die gesprekke met die kinders. ’n Seun, vermoedelik nege jaar oud, het in trane uitgebars toe hy gevra is of hy bang is vir iemand. Hy het stil omgedraai en weggestap.
Hul huiwering om te praat laat moeilike vrae ontstaan oor wie eintlik vir hul sorg verantwoordelik is en of almal werklik sonder volwasse toesig op die strate is.
Van die kinders sê hulle gebruik die geld wat hulle kry om kos vir hulself en ander te koop wat saam met hulle bly.
Een kind het erken sonder dit is daar dikwels niks om te eet nie.
Hul antwoorde skets ’n prentjie van oorlewing gedryf deur armoede, migrasie en onsekerheid. Dit wat hulle in Namibië ‘verdien’, hoe min die munte ook al is, is volgens die kinders meer as wat hulle in hul eie gemeenskappe kry.
Vir hulle beteken die muntstukke van hande uit motorvensters nie net blote liefdadigheid nie, maar oorlewing.
HONGER EN KOUE
In gesprekke met NMH het kinders van wie sommige so jonk as vyf jaar oud is, gesê hulle trotseer honger, koue en strawwe lewensomstandighede in hul stryd om die hoofstad se strate te probeer oorleef.
Kinders tussen die ouderdomme van vyf en 12 jaar oud het vertel hoe hulle vir dae sonder ’n behoorlike maaltyd is en in die winter sonder komberse slaap.
“Dis moeilik om elke dag te kan eet. Meestal kry ons oorskietkos van mense op ons pad,” het ’n kind vertel.
As hulle gelukkig is, oorleef hulle op een maaltyd per dag.
“Ons eet gewoonlik een keer per dag of glad nie. Dis gewoonlik brood. Ons bad nie, want ons het nie water nie,” het ’n ander gesê.
Baie van die kinders bly in beknopte tydelike skuilings in Okuryangava.
“Ons kom almal van Okuryangava af. Dit is baie vol en niemand maak kos nie. Die geld wat ons kry, word gebruik om iets goedkoop vir ons maag te koop,” het een kind gesê.
Baie is glo sonder hul ouers in Namibië.
“Die meeste van ons, veral die seuns, het alleen gekom en ons ouers in Angola gelos. Ons sukkel om aan te pas by die koue. Ons het geen komberse nie,” het nog een gesê.
Die kinders beweer die jongstes word dikwels na besiger gebiede gestuur, omdat hulle meer geneig is om iets te kry.
“As jy jonk is, sal jy heel waarskynlik dorp toe gaan, terwyl die ouer kinders nader bly,” het 'n kind verduidelik.
Volgens die kinders beweeg hulle in groepe in Windhoek en bedel in verskillende gebiede vir kos en geld. Sommige erken hulle is veral by staanplekke vir vervoer bang vir volwassenes. Hulle word glo ook voorgeskryf om nie sonder betaling te praat nie.
“Ons is bang vir die ouens langs die pad wat help met die oplaai van mense. Hulle sê vir ons om nie verniet te praat nie,” het een kind beweer.
OP DIE RAND
NMH het ook met Nene Kalende (26) gepraat wat drie kinders grootmaak en oorleef deur te bedel.
“Ek het drie kinders by my. Ek is nie die enigste vrou hier met kinders nie, daar is ’n paar van ons,” het Kalende gesê.
Volgens haar woon 60 mense in tydelike skuilings naby ’n brug in Okuryangava.
“Daar is meer as 60 van ons daar en dit is nie lekker nie. Dit is op die oomblik die enigste geskikte plek vir ons,” het sy gesê.
“Daar is dae wanneer ons een sny brood tussen vyf mense deel en dit is regtig moeilik,” erken sy. Volgens Kalende word die kinders gestuur om te gaan bedel, omdat hulle meer geneig is hulp te ontvang.
“Ons laat die kinders meestal toe om in die strate rond te loop om iets te kry. Hulle benader mense makliker en het meer energie,” het sy verduidelik.
Die winter vererger die reeds moeilike omstandighede waarin hulle probeer oorleef, sê Kalende.
“Ons het nie komberse nie en kan nie snags 'n vuur maak om onsself warm te hou nie. Ons wil graag hê die regering moet ons help om 'n warm skuiling te kry. Ons probeer net oorleef,” het sy gesê.
Tydens NMH se besoek aan ’n groep van die kinders was van hulle sigbaar broos en uitgeput, met sommige wat gesukkel het om in die koue op en wakker te bly.
Een vrou het vinnig ’n broodrolletjie gegryp wat ’n kind gebring het en dit geëet sonder om dit te deel. Sy veg self teen die honger.
’n KRISIS JARE IN WORDING
Die teenwoordigheid van Angolese kinders op Namibië se strate is nie nuut nie, maar owerhede erken die situasie het vererger.
In 2025 het die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit bevestig ingrypingsmaatreëls is weens verskerp.
Toe het die ministerie se uitvoerende direkteur Etienne Daniel Nghidinua, gesê Namibiese owerhede werk saam met hul Angolese eweknieë om die kwessie te takel.
Volgens Nghidinua is 74 Angolese kinders en verskeie volwassenes gevolglik gerepatrieer en met families herenig.
Baie van die kinders het egter weer hul weg na Namibië se strate en winkelsentrums gevind.
“Daar word met kommer kennis geneem dat dieselfde groep kinders en volwassenes weer in die strate en ander plekke in verskeie dorpe gesien word,” sê Nghidinua.
Tydens ’n vroeëre repatriasie het immigrasiebeamptes sowat 200 Angolese kinders uit verskeie streke heen in hegtenis geneem en sommige by geriewe in die noorde van die land uitgeplaas.
Uit die groep is 120 gerepatrieer, terwyl ander gebly het. Die kabinet het later N$2,8 miljoen bewillig om die geriewe op te knap. Spanning het egter glo tot die ineenstorting van pogings tot herintegrasie gelei, met baie van die kinders wat na ’n lewe op straat teruggekeer het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie