Helpende hand vir dagsorgsentrum

‘Waardeer die hulp opreg¹
Die sentrum sien om na 32 behoeftige kinders, waaronder kinders wat met gestremdhede, downsindroom, serebrale gestremdheid, outisme en trauma saamleef.
Die Lebensschule-dagsorgsentrum, wat in Rehoboth se Blok B, geleë is het Vrydag hul dankbaarheid uitgespreek nadat ‘n sleepwa vol higiëniese benodighede en eetgoed op hul voorstoep afgelewer is. Dit is danksy die gesamentlike insette van Wutow Trading, SBS trucking, Charitree and die Rob Youth Foundation (RYF).

“Dis ‘n baie welkome gebaar en ons waardeer die hulp opreg. Ons probeer hierdie kinders help en dit kom op ‘n broodnodige tyd met die huidige prysstygings,” het me. Kathy Hampe, wat die sentrum ses jaar gelede gestig het, gesê.

Die sentrum sien om na 32 behoeftige kinders, waaronder kinders wat met gestremdhede, downsindroom, serebrale gestremdheid, outisme en trauma saamleef.

“Ons help hierdie kinders waar nodig en ons diskrimineer nie op grond van ras, kleur of godsdiens nie. Die kinders kom hierheen en ons verskaf ‘n ete per dag. Ons het hulle egter in twee groepe verdeel sodat ons hulle daarvolgens kan bystaan,” het Hampe gesê.

Oor die algemene instandhouding van die sentrum, het sy gesê die regering dra maandeliks sowat N$3 000 by, terwyl twee “vriende” van Duitsland N$10 700 vir werkers se vergoeding skenk. Nog ‘n weldoener van Oostenryk skenk elke ses maande 1 000 euro.

“Ons werk met wat ons het. Ons maandelikse begroting is N$16 000 met water en elektrisiteit ingesluit. Ons voorsien die kinders ook van voetmasserings, terwyl ons ‘n dokter het wat soms van Oostenryk af kom. [Dié dokter sou Maandag, 4 April, besoek aflê.] Daarbenewens rehabiliteer ons kinders wat deur trauma gaan.”

Sy het bygevoeg sommige kinders het ‘n swak tassintuig wat hulle ook probeer stimuleer, terwyl hulle ook mondskerms vir kinders het wat aan sialorrhea ly – ‘n toestand wat veroorsaak dat kinders kwyl as gevolg van swak of onderontwikkelde spiere om die mond of oormatige speeksel.

“Ons help ook kinders wat spraakprobleme het. ‘n Stemafrigter kom help uit sodat die kinders kan praat. Dis ‘n verootmoedigende ervaring. Op hulle ouderdom het ons rondgehardloop en ‘n normale lewe gelei. Tog moet hulle vir iets so eenvoudig werk, en ons help hulle graag op enige manier. Hierdie skenking word baie waardeer en sal ons help om nog beter vir hulle te sorg,” het sy bygevoeg.

Me. Natalia Augustinus, RYF se bestuurder in die Erongostreek, glo enigiets is moontlik met ‘n bietjie liefde en omgee.

“Dit is nogal ongelooflik en terselfdertyd ontnugterend om te sien waardeur hierdie kinders gaan en hulle te sien glimlag. Almal verdien ‘n kans en dit is bemoedigend dat die Lebensschule-personeel hulself onbaatsugtig daaraan toewy om diegene te help wat nie gelukkig genoeg is om volle toegang tot al hul sensoriese en motoriese funksies te hê nie. As ‘n stigting het ons ‘n verantwoordelikheid om kinders en jeugdiges te help en hul ontwikkeling te bevorder,” het sy gesê.

Mnr. Hennie Kruger het namens Charitree en Wutow Trading gesê dit is die derde keer dat hierdie vennootskap ‘n verskil in jong lewens kan maak en bygevoeg die inisiatief sal in die toekoms voortgesit word. Hy het potensiële rolspelers uitgenooi om betrokke te raak en “ander mense se toekoms te laat geld”.

“Die plan is om dit vorentoe volhoubaar te hou en dit nie net ‘n eenmalige inisiatief te maak nie. Tans het ons genoeg hulpbronne, maar solank ons vennote saam met ons werk, kan ons dit in die toekoms op ‘n gereelde basis doen. Die enigste uitdaging wat ons in die gesig staar, is waarskynlik logistiek. Ons waardeer ons vennote, maar daar is tog soveel meer wat ons kan doen. Ons sakevennote verdien lof vir hul uitstekende pogings en onwrikbare toewyding,” het hy gesê.

Die kinders by Lebensschule is in twee groepe verdeel, wat beteken die dagsorgsentrum akkommodeer elke kind elke tweede dag. Die oudste persoon vir wie hulle sorg is ‘n 26-jarige, terwyl die jongste ‘n eenjarige baba is.

Diegene wat betrokke wil raak kan Hampe by 081 665 0363 kontak. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!