GBV-slagoffer: Ons is moeg vir stilte

Liefde is nie lyding
One Economy Foundation meen landdroste, prokureurs, polisie, maatskaplike werkers en dokters benodig behoorlike opleiding in wetgewing oor GBV en geweld teenoor kinders, sodat hulle doeltreffend kan optree.
Annemarie du Toit
Namibië staan op die rand van ’n morele noodtoestand.

Elke jaar van 25 November tot 10 Desember dra die wêreld oranje strikkies vir die 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld. Elke jaar hoor ons dieselfde woorde: “Genoeg is genoeg.” En tog, agter die toesprake, die mediaverklarings en die hutsmerke, skuil die stemme van diegene wat regtig ly.

In Namibië het geslagsgebaseerde geweld (GBV) lankal ’n nasionale krisis geword. Dis nie meer net ’n “vrouesaak” of ’n “familiekwessie” nie dis ’n wond wat deur elke dorp, skool en straat loop. Dis in die stilte van ’n buurvrou wat nooit weer haar man durf teëpraat nie; in die trane van ’n dogter wat haar ma hoor skree deur die mure; in die statistieke wat ons elke jaar lees, maar wat nooit genoeg voel nie.

Volgens die Namibiese polisie is daar tussen April 2024 en Februarie 2025 altesaam 4 405 gevalle van GBV aangemeld, waarvan 1 345 verkragtings was. Studies toon dat sowat 32% van getroude vroue in Namibië al fisieke of seksuele geweld deur ’n intieme maat ervaar het.

GEEN HEENKOME

Wanneer ’n vrou besluit om te vlug, is daar dikwels geen plek om heen te gaan nie. Namibië het slegs twee vroueskuilings wat staatsubsidie ontvang, terwyl ander skuilings in staatsbesit al jare lank nie in bedryf is nie. Die gebrek aan veilige ruimtes laat baie slagoffers in die steek, bang vir wat die oortreder sal doen, bang vir hul kinders en dikwels ekonomies afhanklik van hul mishandelaar.

Ons hoor gereeld van “nasionale strategieë” en “toegewyde komitees”, maar vir vroue in nood klink dit soos leë beloftes. Sommige van die hartseer stories kom direk van die slagoffers self. Een jong vrou, wat vir jare deur haar pa mishandel is, sê:

“Ek is so teleurgesteld in ons regstelsel. Hy het daarin geslaag om alles op die feit te blameer dat hy ‘n alkoholis is en hy het weggekom met alles wat hy het vir jare aan ons gedoen het. En daar is honderde ander jong meisies net soos ek wat teen dieselfde demone stry.”

Hierdie woorde is nie net haar pyn nie, dit is die stem van talle ander wie se reg op beskerming steeds geïgnoreer word.

KUNDIGE INSETTE

Veronica Theron, direkteur van gesondheid en welsyn by die One Economy Foundation, beskryf GBV as ’n nasionale krisis en ’n “ontwikkelingsuitdaging”. Sy sê die wette is daar, maar sonder behoorlike opleiding en hulpbronne bly dit net op papier. “Mense verloor vertroue in die regstelsel. Lae vervolgingsyfers, vertraagde beskermingsbevele en gebrek aan spesialis-ondersteuning veroorsaak sekondêre trauma vir slagoffers en hul families,” verduidelik sy.

Sy wys ook op die jong ouderdom van beide slagoffers en oortreders en op die tekort aan geskikte hulpbronne: “Diensverskaffers in die voorste linies soos landdroste, prokureurs, polisie, maatskaplike werkers en dokters benodig behoorlike opleiding in wetgewing oor GBV en geweld teenoor kinders, sodat hulle doeltreffend kan optree. Tans is regsverteenwoordigers dikwels beter opgelei as vervolgers.”

JEUG NEEM VOORTOU

Maar daar is hoop. ’n Nuwe golf jong Namibiërs begin harder praat, organiseer en optree. Hulle hou aan om te vra: Wanneer is genoeg, genoeg? Theron sê jongmense kan meer doen as net praat, hulle kan op grondvlak help: eweknieë as mentors, hofondersteuning vir kwesbare slagoffers, vrywillige betrokkenheid by GBV-eenhede en ander praktiese optrede. Sy beklemtoon ook verantwoordelikheid vir eie veiligheid: “Verkragting en drank- en dwelmmisbruik is dikwels verbind. Jong mense moet mekaar opvoed oor veiligheid, toestemming en rooi ligte wat in verhoudings flikker.”

Die 2025-tema, digitale geweld, bring nuwe uitdagings. Kubermishandeling, teistering, agtervolging en wraakpornografie neem toe. Theron sê skole, ouers en wetgewers moet vinnig optree om kinders in digitale ruimtes te beskerm en wetgewing hieroor moet versnel word.

OMSKEP TRAUMA IN KRAG

One Economy Foundation skep veilige ruimtes waar jongmense stories kan deel, kuns en sport kan gebruik vir bewustheid en aktief kan leer oor toestemming, statutêre verkragting en rooi ligte in verhoudings. Hierdie platforms laat jong mense nie net praat nie, maar optree.

Theron glo dat verandering moontlik is: “Ek sien dit in elkeen wat oorleef het wat sê: ‘Jy het my lewe gered.’ Ek sien dit in slagoffers wat nou prokureurs of sielkundiges is, mense wat hul trauma omskep het in krag.”

Haar boodskap aan die jeug: “Maak jou hande vuil. Raak betrokke. Word die verandering wat jy wil sien.”

Elke stem, elke optrede, elke storie dra by tot ’n nuwe kultuur een waar stilte nie oorlewing beteken nie. As jy of iemand wat jy ken, hulp benodig, bel asseblief die GBV-hulplyn by 106. Dis gratis, 24 uur beskikbaar en kan iemand se lewe red.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer