‘Ek kan net een keer per dag eet’
Vir Elvis Ketjivandje, ’n verpleegstudent aan die Symanek Specialized College, is inflasie nie ’n persentasie op ’n grafiek nie.
Dit is die verskil tussen drie maaltye per dag en om net een of twee keer te eet.
“Dit beteken dat dieselfde bedrag nie soveel dek as wat dit voorheen gedoen het nie,” sê Ketjivandje.
Volgens hom dwing stygende kos-, vervoer- en verblyfkoste hom om selfs sy mees basiese daaglikse behoeftes te heroorweeg.
“Soms sal ek ook goedkoper kosopsies moet kies en my maaltye moet verminder van drie keer per dag na slegs twee keer, of selfs net een keer per dag, om my uitgawes te beperk.”
Ketjivandje ontvang gewoonlik N$3 500 per maand om van te leef. Sy verblyf kos N$1 500, hy bestee N$1 300 aan kos en ongeveer N$900 gaan aan vervoer en ander basiese noodsaaklikhede. Dan het hy nog nie vir data, drukwerk, skryfbehoeftes en ander studieverwante uitgawes betaal nie.
“Ek sal kampus toe moet stap om geld te spaar,” het hy gesê, ’n besluit wat, volgens hom, uiteindelik sy studies kan beïnvloed.
“Om ’n student te wees, gaan nie net oor die betaling van klasgeld nie. Ek het steeds vervoer, kos, verblyf, data, drukwerk en ander dinge vir my studies nodig,” het Ketjivandje gesê.
Hy het ook verwys na die trae uitbetaling van befondsing en toelaes aan studente en gesê studente moet steeds daaglikse uitgawes die hoof bied, selfs wanneer finansiële ondersteuning vertraag word.
Ketjivandje daaglikse stryd kom te midde van ekonome wat waarsku dat Namibië se hoofinflasiekoers moontlik die druk onderskat wat deur lae-inkomstehuishoudings ervaar word, aangesien hul besteding grootliks op noodsaaklikhede, soos voedsel en vervoer, gefokus is.
Namibië se jaarlikse inflasie het in Augustus tot 5% gestyg – teenoor 4,4% in Julie – met vervoerkoste onder die grootste dryfvere ná brandstofprysverhogings.
EKONOOM
Almandro Jansen, ’n ekonoom by Simonis Storm het gesê sy firma se Augustus-inflasiebeoordeling het sy voljaar-inflasievoorspelling na 4,3%-4,6% hersien, terwyl sy jaareindvoorspelling aansienlik hoër is op 4,8%-6,8%.
Hy het gewaarsku die nasionale inflasiesyfer weerspieël nie noodwendig die inflasie wat deur armer huishoudings ervaar word nie.
“Die gepubliseerde VPI [verbruikersprysindeks] is ’n geweegde gemiddelde wat gebaseer is op die bestedingspatroon van ’n tipiese, inkomste-‘blinde’-mandjie,” het Jansen verduidelik.
Volgens Jansen maak voedsel 16,5% van die nasionale VPI-mandjie uit, vervoer 14,3% en behuising, water en elektrisiteit 28,4%.
Lae-inkomstehuishoudings bestee ’n aansienlik groter deel van hul inkomste aan kos en vervoer. Deur gebruik te maak van ’n illustratiewe bestedingsmandjie vir lae inkomstes – wat bestaan uit 35% vir voedsel, 18% vir vervoer en 20% vir behuising en nutsdienste – het Jansen bereken die effektiewe inflasiekoers vir Augustus sou nader aan 5,5% wees, eerder as die amptelike 5%.
Hy het beklemtoon dit is ’n illustratiewe herevaluering en nie ’n amptelike inflasie-indeks vir lae-inkomstehuishoudings nie. Gebaseer op ’n illustratiewe maandelikse inkomste van ongeveer N$4 000, het Jansen gesê die gaping van ’n halwe persentasiepunt beloop ongeveer N$220 per maand – ’n bedrag wat nodig is om bloot dieselfde koopkrag te bekostig.
Jansen het gesê die skerp styging in vervoerkoste is veral nadeling omdat armer huishoudings minder opsies het om dit te vermy.
Op 5 Augustus het die prys van petrol op Walvisbaai tot N$24,48 per liter gestyg, vergeleke met ’n geraamde N$19,57 ’n jaar tevore. Dit kos dus ongeveer N$1 224 om ’n vyftiglitertenk vol te maak, vergeleke met N$980 ’n jaar gelede – ’n styging van bykans N$250 vir dieselfde hoeveelheid brandstof.
“Vermenigvuldig dit met elke taxi, minibus en afleweringsvoertuig in die land en dit verduidelik waarom taxi- en treintariewe albei meer as 15% jaar-op-jaar hoër is,” het hy gesê.
Jansen het gesê die druk word veral kommerwekkend wanneer huishoudings gedwing word om geld te leen om in noodsaaklike behoeftes te voorsien.
Hy het gewaarsku indien verhoogde inflasie voortduur terwyl lone, toelaes en ander inkomste stadiger aangepas word, dit die lewenstandaard van huishoudings met ’n laer inkomste verder kan verswak.
Vir mense wat reeds van een salaris of toelaag tot die volgende leef, is die kwessie dus nie bloot dat pryse styg nie. Dit gaan daarom of daar enigiets oor is om op te besnoei wanneer pryse weer styg, het Jansen gewaarsku.
Werkende huishoudings voel reeds die druk.
Lichen Khoeses (32), ’n werkende volwassene, het aan Republikein gesê kos en huur is haar grootste uitgawe, terwyl vervoer en nutsdienste ook ’n groot deel van haar salaris opslurp.
“Dit voel asof die geld, selfs met ’n noukeurige begroting, nie genoeg is om alles gemaklik te betaal nie,” het die ma van een gesê.
“As kos- en munisipale koste verder styg, sal ek nog meer op ander huishoudelike uitgawes en nienoodsaaklike besteding moet besnoei,” het sy gesê.
GEEN RUIMTE
Die ekonoom Ida Williams van Cirrus Capital het gesê die risiko is die grootste vir huishoudings wat reeds hul vermoë om uitgawes te besnoei, uitgeput het.
“Inflasie is ’n ernstige bedreiging vir huishoudings,” het Williams gemaan.
Sy het na Namibië se data oor finansiële insluiting verwys en daarop gewys die helfte van die inwoners verdien N$2 000 of minder per maand en dat die algemeenste rede vir die aangaan van skuld is om kos te koop.
Vir welgestelde huishoudings, het Williams gesê, inflasie kan beteken dat hulle van premium-handelsmerke na generiese alternatiewe oorskakel.
“Vir lae-inkomste- en arm huishoudings is die verandering veel meer drasties. Huishoudings wat slegs die goedkoopste opsies kan bekostig, word uit die mark gedwing namate inflasie daardie pryse opstoot, wat hulle dwing om drasties te besnoei of heeltemal van die produkte of dienste af te sien,” het sy gesê.
Die gevolge, het Williams gewaarsku, is reeds sigbaar in alledaagse besluite, met kinders wat skool toe loop in plaas daarvan om taxi’s te gebruik, gesinne wat sonder basiese kruideniersware moet klaarkom, ouers wat mediesefondsdekking kanselleer en huishoudings wat hulle tot duur korttermynlenings wend.
Sy glo talle huishoudings ervaar reeds ’n krisis, met inflasie wat as ’n katalisator dien en bestaande armoede en werkloosheid vererger. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie