Op 12 Desember 2012 het Berrie Holtzhausen ná 20 jaar in aanhouding die ketting van Ndjinaa in die Kunenestreek losgemaak wat van heksery beskuldig is. FOTO VERSKAF
Op 12 Desember 2012 het Berrie Holtzhausen ná 20 jaar in aanhouding die ketting van Ndjinaa in die Kunenestreek losgemaak wat van heksery beskuldig is. FOTO VERSKAF

Dringende beroep gedoen op hervorming van hekserywet

Geweld en mishandeling veral teen bejaardes
Die huidige wet slaag nie daarin om kwesbare mense teen stigma, geweld en ekonomiese uitbuiting te beskerm nie.
Adam Hartman
’n Plaaslike menseregte-aktivis het ’n beroep gedoen op die dringende hervorming van die land se 91 jaar oue hekserywet en gewaarsku dit het nie daarin geslaag om kwesbare mense teen stigma, geweld en ekonomiese uitbuiting te beskerm nie.

Berrie Holtzhausen, die stigter van Alzheimer Dementia Namibia (ADN), het in Mei vanjaar ’n voorstel by die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge ingedien waarin hy die hersiening van die Proklamasie oor die Onderdrukking van Heksery van 1933 versoek het.

Hy voer aan die wet is verouderd en stel bejaardes, persone met demensie en mense met gestremdhede bloot aan beskuldigings en mishandeling.

“Beskuldigings van heksery is nie bloot kulturele oortuigings nie, dit het ekonomiese hulpmiddels en instrumente van geweld geword wat lewens vernietig,” het Holtzhausen gesê.

Die voorlegging is in ooreenstemming met internasionale raamwerke, insluitend die Verenigde Nasies se menseregteraad se resolusie 47/8 en die Pan-Afrikaanse parlement se riglyne, wat beide lande versoek om skadelike praktyke wat verband hou met beskuldigings van heksery en rituele aanvalle (HPAWR) te kriminaliseer.

ADN het voorvalle in Namibië gedokumenteer waar demensie en ander neurologiese toestande vir heksery aangesien is. In een voorval in die Kavangostreek het ’n tradisionale hof twee vroue met N$38 000 beboet op aanklagte dat hulle bonatuurlike skade aan ’n kind veroorsaak het.

“Hierdie beskuldigings skend die Grondwet. Hulle is gebaseer op vrees, nie feite nie,” het Holtzhausen gesê.

UITBUITING VAN GELOOF VIR WINS

Die Pan-Afrikaanse parlement het gewaarsku dat sulke praktyke, insluitend gedwonge verplasing, rituele moorde en ekonomiese uitbuiting, gebruik word om kwesbare groepe te marginaliseer en meningsverskille te onderdruk.

Die riglyne vereis opgedateerde wette, regulering van tradisionele en geloofsgenesers en ondersteuningstelsels vir slagoffers.

Holtzhausen het gesê dat geloofsgebaseerde genesers, insluitend sommige wat onder hoofstroom godsdienstige sambrele werk, geloofstelsels vir wins uitbuit.

“Hulle beweer dat hulle mense van vloeke ‘reinig’ vir geld, en hul slagoffers is dikwels die mees weerloses in die samelewing,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg ’n gebrek aan toegang tot geestesgesondheidsorg en swak openbare bewustheid dra by tot die voortbestaan van skadelike praktyke.

“Baie landelike gemeenskappe het geen begrip van demensie nie. Hulle sien nie geheueverlies as ’n siekte nie – hulle sien dit as ’n vloek,” het hy verduidelik.

Elvis Lizazi, die skaduminister van justisie van die Independent Patriots for Change (IPC), het gesê die regering het reeds vroeër vanjaar openbare voorleggings vir wetgewende hervorming gevra, en Holtzhausen se voorstel moet in daardie konteks gesien word.

“Alles wat Holtzhausen bedoel het om in te sluit, glo ek, sal deur die regering oorweeg word, want hulle het die beroep gedoen om so ’n wysiging aan enige wet te maak,” het hy gesê.

Lizazi het gevra vir groter samewerking met nieregeringsorganisasies (NGO’s) om grondwetlike onderrig te bevorder en het voortgesette voorvalle in die Zambezistreek uitgelig, waar tradisionele genesers bejaardes wat van heksery beskuldig word, aanhou.

“Ons het probleme in Kabbe-Suid waar bejaardes onwettig na Zambië geneem en mishandel word. Hulle keer huis toe in vrees en stigma en sommige is as gevolg van hierdie praktyk dood,” het hy gesê.

Hy het ook bevestig dat internasionale protokol soos resolusie 47/8 van die VN se menseregteraad wetlik bindend is ingevolge Artikel 144 van die Namibiese Grondwet.

“Daar is geen ander manier, behalwe om in lyn te kom met dit waarvoor voorsiening gemaak word nie,” het Lizazi gesê.

Hy het egter erken betekenisvolle afdwinging sou moeilik wees in ’n samelewing waar daar nog wydverspreid in heksery geglo word.

“Daar is niks wat die regering daaraan doen nie, want hulle glo ook in heksery,” het Lizazi gesê.

“Ons blameer [hekse] steeds daarvoor dat hulle ons belemmer om ekonomies te vorder, ons geld vat, by die universiteit laat druip of dat ons nie werk kry nie.”

Die ministerie van justisie het nog nie op Holtzhausen se voorstel gereageer nie.

Hy het die parlement versoek om die kwessie as ’n nasionale dringendheid te hanteer.

“Dit is nie net ’n regskwessie nie. Dit is ’n nasionale noodgeval wat gesondheid, veiligheid en menswaardigheid raak,” het hy gesê.

Ten spyte van verskeie pogings en herinneringe die afgelope twee weke om kommentaar van die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Fillemon Wise Immanuel, of enigiemand van die ministerie, deur middel van die ministerie se woordvoerder, Edmund Khoaseb, te bekom, was onsuksesvol.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer