Die stil kreet teen geslagsgeweld

Annemarie du Toit
Dit is vir die vroue en meisies wat bid dat dinge net één keer moet uitwerk, wat met geheime loop wat hulle met niemand kan deel nie, wat aanhou hoop en bid al voel dit asof niemand luister nie.

In ‘n sigbare en betekenisvolle opstaan teen geslagsgebaseerde (GBV) en met ‘n oproep wat ‘n kreet geword het dat dit as ‘n nasionale noodtoestand verklaar moet word, het Namibiërs oraloor die land Vrydag vir ‘n wyle stil gestaan. Van 12:00 tot 12:15 het veral vroue en jong meisies en ook mans in al 14 streke en geklee in swart op strate, in kantore, op skoolterreine en in openbare ruimtes stil gestaan en stil gelê. Die 15 minute van stilte was om die stemloosheid van slagoffers te weerspieël en die stemme van slagoffers wat weens GBV stil geword het en wat ‘n epidemie in Namibië geword het.

In Windhoek is van die name van slagoffers van geslagsgeweld voorgelees, van hulle so jonk as vyf jaar oud. Onder die name wat die stilte verbreek het, was Ingrid Maasdorp, Rosalind Fabian en Juanita Karolus wat ‘n hoorbare herinnering was dat hulle nie net statistieke is nie, maar dat agter elkeen ’n lewe en ’n familie skuil wat deur verlies geraak is.

Vir die deelnemers aan die landwye stil protes was dit om hul steun aan oorlewendes te wys, maar ook ‘n manier om aan die land en dié in beheer te wys geslagsgeweld kan lankal nie meer geïgnoreer word nie.

Die stil word vir 15 minute was vir baie nie ‘n politieke standpunt nie, maar eerder ‘n persoonlike en sigbare manier om op te staan teen die groeiende krisis wat gemeenskappe, gesinne en jong mense oraloor die wêreld raak.

Die organiseerdes van Vrydag se stil protes was dit eens dat die landwye deelname ‘n teken is dat gemeenskappe bereid is om by volhoubare oplossings betrokke te raak. Die belofte is dat dit nie ‘n eenmalige gebeurtenis was nie, maar die begin van ’n groter, landwye poging om bewusmaking te verhoog, strukturele verandering te bevorder en gesprekke aan te moedig tussen inwoners, skole, instellings en beleidsmakers. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer