54% van moedersterftes was voorkombaar, sê ministerie
Meer as die helfte van Namibië se moedersterftes kon deur beter kliniese sorg voorkom gewees het.
Kritieke tekortkominge – insluitend vertragings in die herkenning van gevaartekens en swak verwysingspraktyke – is gevind in bykans 80% van die rekords van moedersterftes wat bestudeer is.
Die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, Suzan Ndjaleka, het gesê moedersterftes is steeds een van Namibië se grootste uitdagings op die gebied van openbare gesondheid, ten spyte van beduidende vordering die afgelope twee dekades.
“Geboorte behoort ’n oomblik van hoop, vreugde en viering te wees. Tog bly ernstige bloeding ná geboorte – ofte wel postpartum-bloeding – vir té veel vroue wêreldwyd en binne ons eie grense die vernaamste en mees tragiese oorsaak van moedersterftes,” het sy gesê.
Ndjaleka het dié opmerkings gister in Windhoek gemaak tydens die bekendstelling van die nasionale opleidingsprogram vir opleiers om sorg vir bloeding ná bevalling (PPH) uit te brei.
Sy het gesê ’n vertroulike ondersoek na moeder-, stilgeboorte- en neonatale sterftes van April 2021 tot Maart 2024, het bevind dat 54% van moedersterftes deur verbeterde kliniese sorg voorkombaar was.
Kritieke leemtes is in byna 80% van die moedersterfterekords wat bestudeer is, geïdentifiseer, met vertragings in die erkenning van kliniese agteruitgang en substandaard verwysingspraktyke onder die belangrikste tekortkominge.
Namibië se moedersterftesyfer het tussen 2000 en 2024 gedaal van meer as 450 tot 139 sterftes per 100 000 lewende geboortes, het die adjunkminister gesê.
Dit bly egter steeds bykans dubbel die teiken van minder as 70 wat vir die doelwit vir volhoubare ontwikkeling gestel is.
Die nasionale verbetering verbloem beduidende streekverskille, aangesien moedersterftesyfers in die Omaheke- en Zambezistreek steeds aansienlik bo die nasionale gemiddeld is, het Ndjaleka gesê.
Om daardie teiken te bereik, sal volgehoue pogings verg om die gehalte en tydigheid van gesondheidsorg vir ma’s te versterk, het sy gesê.
Dit sluit die vermoë van gesondheidswerkers in die voorste linie in om verloskundige noodgevalle te herken en daarop te reageer.
Direkte verloskundige komplikasies is verantwoordelik vir 60,7% van moedersterftes, het die ministerie gesê, terwyl nageboorte bloeding alleen vir 16% verantwoordelik is, wat dit die tweede grootste oorsaak van moedersterftes maak.
Die bevindinge het gelei tot hernude pogings om die vermoë van gesondheidswerkers in die voorste linie te versterk om verloskundige noodgevalle te herken en daarop te reageer voordat dit noodlottig word.
Die PPH-opleiding is gebaseer op ’n sorgpakket wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aanbeveel word en ontwerp is om te verseker dat nageboorte bloeding vroeg opgespoor en onmiddellik behandel word.
Ndjaleka het gesê daar sal van die gesondheidswerkers wat die opleiding ontvang, verwag word om die vaardighede terug na klinieke en kraamafdelings oraloor die land te neem.
“Julle is die ruggraat van ons gesondheidstelsel en julle toewyding om lewens te red, is juis die rede waarom ons vandag hier byeengekom het,” het Ndjaleka gesê.
Sy het die opleiers uitgedaag om kampvegters vir die gesondheid van ma’s te word deur verpleegkundiges, vroedvroue en dokters te mentor om daadwerklik op te tree wanneer elke sekonde tel.
Die ministerie werk saam met vennote, insluitend die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds (UNFPA), die WHO, opleidingsinstellings en gesondheidslui om die ingryping uit te brei.
Die uiteindelike doelwit, het sy bygevoeg, is om “nul voorkombare moedersterftes weens portpartum-bloeding in Namibië” te bereik.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie