Windhoek vernietig 580 ton onveilige kos
Stad Windhoek het oor die afgelope jaar sowat 580 ton kos wat as ongeskik vir menslike verbruik beskou is, vernietig as deel van pogings om voedselsekerheid te verbeter en die openbare gesondheid te beskerm.
Windhoek se burgemeester, Sakarias Uunona, het die syfers Woensdag tydens die stad se eerste herdenking van Wêreldvoedselveiligheidsdag bekend gemaak en gesê die munisipaliteit het ook 140 monsters van kos, water en melk lukraak uitgevoer en 227 voedselhanteerders opgelei.
Uunona het gesê beslag is op die onveilige produkte gelê of dit is verwyder om te keer dat dit verkoop word en sodoende verbruikers bereik.
“As gevolg hiervan is ongeveer 580 000 kg uiteenlopende voedselprodukte afgekeur en vernietig nadat dit as ongeskik vir menslike verbruik verklaar is,” het hy gesê.
Uunona het gesê die meeste monsters van kos, water en melk wat by formele en informele ondernemings ingesamel is, het aan die veiligheidstandaarde voldoen.
DUIDELIKE BOODSKAP
Hy het gesê die munisipaliteit het regstappe geneem teen ondernemings wat nie aan voedselveiligheidsvereistes voldoen het nie, insluitend die onlangse sluiting van ’n voedselonderneming deur ’n hofbevel.
“Hierdie optrede stuur ’n duidelike boodskap dat voedselveiligheidstandaarde nie bloot aanbevelings is nie; dit is noodsaaklike vereistes wat ontwerp is om die openbare gesondheid te beskerm en lewens te red.”
Benewens wetstoepassing het die burgemeester gesê die raad belê in opleiding deur 227 voedselhanteerders op te lei en verantwoordelike praktyke regdeur die voedselvoorsieningsketting te bevorder.
Hy het die wêreldwye impak van onveilige kos uitgelig en na ramings van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) verwys dat sowat 600 miljoen mense jaarliks van besmette kos siek word, terwyl ongeveer 420 000 aan siektes sterf wat deur voedsel oorgedra word.
“Dit is nie bloot statistiek nie. Dit verteenwoordig families wat geraak word, bestaansmiddele wat ontwrig word, geleenthede wat verlore gaan en lewens wat voortydig geëis word,” het hy gesê.
Die burgemeester het gesê Windhoek versterk sy wetenskaplik-gebaseerde benadering deur die insameling van voedselveiligheidsdata, monitering en regstellende maatreëls.
Hy het ook ondernemings, voedselhanteerders en verbruikers aangespoor om verantwoordelikheid vir voedselveiligheid te neem en gesê dit vereis samewerking oor die hele linie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie