FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Spoedhobbels: ‘Moenie net ongelukke tel’

Statistiese data oor volumes, spoed
Spoedwalle kan voetgangerveiligheid op paaie met lae volume en lae spoed verbeter, maar hul gebruik op die westelike verbypad bied uitdagings.
Elizabeth Kheibes

’n Dosent in vervoeringenieurswese van die departement siviele, mynbou- en prosesingenieurswese aan die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) sê die veiligheidsimpak van die omstrede spoedhobbels op die westelike verbypad moet gemeet word deur verskeie aanwysers te gebruik eerder as om bloot ongelukke te tel. 

Volgens Candidus Tomeka moet die mate waarin die spoedhobbels of enige ander ingrypingsmaatreël padveiligheid verbeter het, beoordeel word deur statistiese data oor snelhede, ongelukke, volumes verkeersvloei en aktiwiteite van voetgangers te evalueer. 

Tomeka sê die evaluering moet data gebruik wat voor en na die installering ingesamel is en moet die tipe, erns en voorkoms van ongelukke oor ’n sekere tydperk ondersoek. 

“Vir ongeluksdata is die belangrike aspekte die aantal ongelukke wat oor ’n sekere tydperk voorkom; die tipe soos impak op die sy of van agter, of voetgangerverwante ongelukke; en die erns, wat sterftes, ernstige beserings en geringe beserings insluit,” het hy gesê.

Ook die terugvoer van motoriste, voetgangers en wetstoepassingsagentskappe moet deel van die evaluering vorm.

Tomeka beveel aan dat drie tot vyf jaar se historiese ongeluksdata gebruik word om ’n betroubare basislyn te vestig. 

“Langtermyn-data van voor die installering van die spoedhobbels moet gebruik word om jaarlikse variasies te bepaal, ideaal gesproke die vorige drie tot vyf jaar. Dit bied ’n meer betroubare basislyn waarteen die situasie beoordeel kan word.”

Tomeka sê die ontleding moet bepaal of die ingryping nie net die aantal ongelukke verander het nie, maar ook hul tipe en erns. 

“Enige vermindering in voetgangerverwante ongelukke moet saam met veranderinge in botsings van agter of ander tipes ongelukke oorweeg word. 

“Die doeltreffendheid van die ingryping kan dus net behoorlik bepaal word deur die voor-en-na-data oor hierdie aanwysers te vergelyk en die algehele uitwerking op padveiligheid te bepaal,” verduidelik Tomeka. 


‘ONTWRIGTING VAN VERKEERSVLOEI’

Tomeka het die geskiktheid van spoedhobbels vir ’n pad met hoë volumes soos die westelike verbypad bevraagteken. 

“Hoë volume, hoë spoedpaaie soos die B1 westelike verbypad is hoofsaaklik ontwerp en gebou vir mobiliteits- en nie toegangsdoeleindes nie,” sê Tomeka. 

“In verkeersingenieurswese verwys mobiliteit na die vermoë en spoed waarteen verkeer van een plek na ’n ander kan beweeg. Spoed is dus belangrik om doeltreffende reistye te handhaaf.”

Tomeka sê spoedhobbels kan voetgangerveiligheid op paaie met lae volume en lae spoed verbeter, maar hul gebruik op die westelike verbypad bied uitdagings. 

“Dit sluit in ontwrigting van verkeersvloei, laer reistye, impakte op swaar voertuie en nooddienste en moontlike toenames in botsings van agter en riskante maneuvers om van bane te verwissel.”

Tomeka sê die langtermyn-oplossing moet die pad se mobiliteitsfunksie die beskerming van voetgangers balanseer. 

“Maatreëls soos voetgangerbrûe, saam met sy- en middelversperrings om voetgangers na veilige oorgangspunte te lei, sou hier meer gepas gewees het,” sê Tomeka. 

Die minister van werke en vervoer, Veiko 

Nekundi, het die ingryping verdedig deur die verantwoordelikheid op motoriste te plaas om verkeersregulasies en padtekens na te gehoorsaam. 

“Maak die lewe van ’n kind wat ná die spoedhobbel gestamp en dood is, nie saak nie?” het Nekundi aan Republikein gesê. 

“Die kwessie is eenvoudig, ons bestuurders moet die padreëls respekteer en nakom. Dit sluit padtekens en toestelle soos dienooreenkomstig geplaas is in,” het hy gemaan. 

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer