Regering befonds nie 24%-belang in Hyphen
Die regering gebruik nie belastingbetalers se geld nie en neem ook geen direkte finansiële risiko om sy belang van 24% in die Hyphen-groenwaterstofprojek te finansier nie.
Die staat se deel van die proses se ontwikkelingskoste word deur skenkings van internasionale vennote gefinansier.
Só het Hyphen Hydrogen Energy se uitvoerende hoof, Marco Raffinetti, tydens ’n inligtingsessie aan die parlementêre staande komitee oor natuurlike hulpbronne gesê.
Hy het daarop gewys dat daar wydverspreide misverstande bestaan oor hoe die regering se deelname aan dié multimiljarddollar-projek befonds word.
Raffinetti het gesê die regering se aandelebelang, wat deur die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) namens die Soewereine Welvaartfonds gehou word, is nie uit die nasionale begroting gefinansier nie.
“Al die geld wat die regering aan sy deel van die ontwikkelingskose van die projek bestee, word deur die Nederlandse regering en die Europese Unie befonds,” het hy aan wetgewers gesê.
“In hierdie stadium bestee die regering nie sy eie geld nie en neem hy geen finansiële risiko met betrekking tot die Hyphen-projek nie, behalwe vir die koste verbonde aan ondersteuning van die groenwaterstofbedryf en die programme wat hy tot voordeel van die hele sektor implementeer,” het Raffinetti bygevoeg.
Hy het gesê die finansieringstruktuur stel Namibië in staat om as aandelevennoot deel te neem, terwyl sy finansiële blootstelling tydens die ontwikkelingsfase beperk word.
“Dit is ’n baie belangrike punt en een wat wyd verkeerd verstaan word. As daar enige finansiële kundiges in die vertrek is: Dit is wat ons noem om iemand anders die risiko te laat dra.
“Met ander woorde, jy gebruik iemand anders se geld om in die projek te belê en waarde vir jou mense te skep,” het Raffinetti gesê.
‘TRAAGHEID’
Die inligtingsessie kom te midde van toenemende vrae oor die pas van Namibië se vlagskip-groenwaterstofprojek.
Die voorsitter van die komitee, Tobie Aupindi, het gesê: “Ek moet ook sê. . . dit lyk asof daar nou ’n mate van traagheid is; of dit nou waar is en of dit bloot ’n persepsie is, dit is vir ons ’n ernstige bekommernis, want ons strategiese oogmerk en doelwit is om te verseker dat julle slaag, want as julle slaag, slaag Namibië ekonomies.”
Hy het beklemtoon die parlement se rol is nie net om belanghebbers aanspreeklik te hou nie, maar ook om die wetgewende raamwerk te versterk wat nodig is om belegging te ondersteun terwyl breë ekonomiese deelname verseker word.
Aupindi het gesê die komitee is veral bekommerd oor plaaslike inhoud en waarsku dat Namibiërs, veral voorheen benadeelde swartbesit-ondernemings, betekenisvol aan die projek se voorsieningsketting moet deelneem eerder as om opsy geskuif te word.
“Ons moet baie sistematies en doelgerig te werk gaan om plaaslike mense te betrek.
“Wanneer ons van ‘plaaslik’ praat, verwys ons nie net na ’n maatskappy wat in Namibië geregistreer is nie, maar eintlik na ’n onderneming in swart besit. Dit is die mense wat deur vorige koloniale wette van ekonomiese geleenthede ontneem is,” het Aupindi gesê.
Hy het bygevoeg die parlement sal voortgaan om vir ’n meer inklusiewe ekonomiese model te pleit, terwyl die parlement saam met projekontwikkelaars werk om te verseker dat Namibië ten volle by sy ontluikende groenwaterstofbedryf baat.
TOEKOMS NOG GROEN?
Die parlementêre betrokkenheid volg op maande se bespiegeling oor die toekoms van Namibië se groenwaterstofprogram, wat aangevuur is deur die bedanking van die program se voormalige kommissaris, James Mnyupe, en die verstryking van die groenwaterstofraad se mandaat.
Drie maande gelede het rolspelers in die bedryf voorstelle van die hand gewys dat politieke steun vir die sektor verswak het en volgehou die projek geniet steeds regeringsteun, ten spyte van institusionele veranderinge.
Toni Beukes van Hyphen Hydrogen Energy het aan Network Media Hub (NMH) gesê die maatskappy het steeds vertroue in die projek se bestuur en politieke steun.
“Die Namibiese strategie vir groen waterstof verwys na Hyphen as die eerste soort katalisatorprojek in die eerste groenwaterstofvallei, wat die suidelike korridor-ontwikkelingsinisiatief is,” het sy gesê.
“Daar gebeur baie in die agtergrond. . . dit alles behoort vir jou te sê dat ons nie oor politieke steun bekommerd is nie, want dit is daar.”
Beukes het erken die herstrukturering van die regering het besluitneming vertraag, maar gesê dit het nie die projek se algehele momentum beïnvloed nie.
“Uiteraard is daar ’n effense verlangsaming in beweging, maar beslis nie op ’n kommerwekkende vlak of op ’n vlak waar ons nie ondersteuning van ons ministeries geniet nie,” het sy gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie